Please join us in supporting South Sudanese refugees, via the CRN page.

KANADA BEREIK HISTORIESE OOREENKOMS OM EERSTE NASIES-SLAGOFFERS TE VERGOED

Canada

Die Kanadese regering het Dinsdag 4 Januarie aangekondig dat ’n ooreenkoms van 40 miljard Kanadese dollar in beginsel bereik is om die kinderwelsynstelsel vir Eerste Nasies-mense te hervorm en meer as 200,000 individue en gesinne, wat deur die onderbefondsde stelsel benadeel is, te vergoed. Hierdie klasaksie-skikking is die grootste in Kanada se geskiedenis. Dit volg op ’n langdurige regsgeding wat in 2007 begin het met ’n klag wat deur die First Nations Child and Family Caring Society en Vergadering van Eerste Nasies by die Kanadese Menseregtetribunaal (CHRT) ingedien is en die kinderwelsynstelsel daarvan beskuldig dat hulle teen Eerste Nasies-kinders diskrimineer. Bewerings in die klagstaat sluit in dat die federale regering dienste vir Eerste Nasies-gemeenskappe doelbewus onderbefonds het en kinders onnodig uit hul huise verwyder het. Federale beleid – wat eerder ten gunste daarvan was om kinders uit hul gesinne en gemeenskappe te verwyder, in plaas daarvan om hulle te help met armoedeverligting en die voorsiening van kos, klere en skuiling – het gelei tot die oorverteenwoordiging van Eerste Nasies in die kinderwelsynstelsel. Eerste Nasies-kinders is meer as 17 keer meer geneig om in pleegsorg te wees as ander Kanadese en word dikwels aan hulle eie lot oorgelaat met betrekking tot werk, opvoedingsgeleenthede, veilige behuising en basiese maatskaplike dienste nadat hulle 18 geword het. Sedert die CHRT (sowel as die Federale Hof) in 2016 bevind het dat die kinderwelsynstelsel diskriminerend was, is die helfte van die 40 miljard Kanadese dollar toegeken aan die langtermynhervorming van die First Nations Child and Family Services-program en Jordan’s Principle (wat ten doel het om gelyke toegang tot publiekbefondsde programme en dienste vir Eerste Nasies-kinders te verseker). Die ander helfte word opsy gesit as vergoeding aan slagoffers van sowel die kinderwelsynstels op reservate as die Yukon tussen 1 April 1991 en 31 Maart 2022. Verder sal Eerste Nasies-mense wat vertragings of weiering van maatskaplike dienste en mediese sorg ervaar het, tussen 1991 en 2017, vergoed word.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

KANADA
±37,9 MILJOEN

Die minister van inheemse dienste, Patty Hajdu, het die algemene gevoel verwoord dat hoewel geen vergoedingsbedrag vir mense se trauma kan opmaak nie, die ooreenkoms erkenning gee aan oorlewendes en hul gesinne dat skade en pyn veroorsaak is deur diskriminasie in befondsing en dienste weens hul inheemse identiteit. Verder verteenwoordig dit praktiese optrede na aanleiding van die regering se formele verskonings. Die Kanadese Kerk het ’n geskiedenis daarvan om saam met die staat te werk om Eerste Nasies-kinders in die Euro-Kanadese Christelike samelewing te assimileer, veral deur die bestuur van residensiële skole wat deur die staat befonds word. Dus, aangesien die Kerk poog om ’n suiwer voorstelling van God in die Kanadese samelewing te herstel en vertroue op te bou, moet die Kerk voortgaan met hierdie reis van nederige berou (na aanleiding van die verskonings wat kerke ook uitgereik het) en deel wees van die genesingsproses. Dit sluit in om Christus se lig te bring in die hervorming van die kinderwelsynstelsel. Aangesien dit moeiliker is vir die evangelie om die harte van verlorenes te bereik as hulle nie oop is vir die Kerk en die God vir wie Christene ambassadeurs is nie, behoort die Kerk hierdie verantwoordelikheid ernstig op te neem. Nog ’n stelling wat Patty Hajdu gemaak het, is dat “40,000 Kanadese dollar [vir elke geaffekteerde individu] nie genoeg is om iemand heel te maak nie, maar dit is beslis ’n stap in die regte rigting om erkenning te gee aan die seerkry wat individue ervaar het.” As Christene weet ons dat dit moontlik is om genees (heelgemaak) te word, maar slegs deur die reddende genade van God deur Jesus Christus. Die wêreldwye Kerk kan bid dat hierdie ooreenkoms diegene wat onreg gely het, sal help en tot meer holistiese samelewings in die toekoms sal lei. Ons kan ook bid dat die Here mense, deur ’n verhouding met Hom, sal genees en herstel en die vernietigende siklusse wat hierdie beleide geskep het, sal verbreek.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die ooreenkoms werklik diegene wat gely het, sal help en diskriminasie en verwaarlosing in die toekoms sal voorkom;
  • dat die Kerk God se hart suiwer sal weerspieël en aktief betrokke sal wees by die versoenings-, genesings-, herstel- en hervormingsproses in die Kanadese samelewing; en
  • dat die mense heelheid sal ervaar deur die redding en genade van God, wat harte transformeer.

 

 

Foto: REUTERS/Jennifer Gauthier

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES