Please join us in supporting South Sudanese refugees, via the CRN page.

2022 GAAN NA VERWAGTING SUID-SOEDAN SE “HONGERSTE” JAAR WEES

South Sudan

Suid-Soedan beleef tans die ergste hongersnood in sy geskiedenis van 11 jaar. Byna 8,5 miljoen van die land se 11,2 miljoen mense sal na verwagting vanjaar uiterste honger beleef.  Die jongste humanitêre verslag oor Suid-Soedan is nog nie uitgereik nie, maar voorlopige syfers beraam ’n 8% toename in honger vir vanjaar, vergeleke met verlede jaar. Die verteenwoordiger van die Wêreldvoedsel-program (WFP) vir Suid-Soedan het aan Associated Press gesê dat 2021 die ergste jaar op rekord vir die land was in terme van voedselsekuriteit, en dat 2022 na verwagting baie erger sal wees. ’n Groot deel van die huidige voedselskaarste kan aan drie jaar van rekordvloede, wat byna ’n miljoen mense regoor die land geaffekteer het, toegeskryf word. Oeste is verwoes en baie van die bevolking se vee is in die proses dood. Natuurrampe en die voortslepende geweld het ook tot die binnelandse verplasing van duisende mense gelei, wat ’n verdere stremming op plaaslike gemeenskappe se voedselbronne plaas. Ongeveer een miljoen mense het weens voortslepende politieke onrus en burgeroorlog na die buurland Uganda gevlug. Die Verenigde Nasies het sy bystand aan verskeie gebiede in Suid-Soedan in 2021 met 50% gesny weens tekorte in befondsing, wat meer as 3 miljoen mense raak. Verdere vermindering in befondsing het daartoe gelei dat geen kosrantsoene meer aan vlugtelinge wat in Uganda woon verskaf word nie – iets wat die lyding waarmee die Suid-Soedanse bevolking te kampe het, verder vererger. Die regering se onvermoë om ’n vredesverdrag tussen die verskillende strydende faksies te bewerkstellig, het die lewering van dienste aan bande gelê. Inwoners van die staat Jonglei het aan Associated Press gesê dat mense begin het om fyngemaalde blomme en gras te eet, en dat die aantal ondervoede kinders in mediese sentrums toegeneem het.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

SUID-SOEDAN
±11,2 MILJOEN

Die Christelike kerk in Suid-Soedan het sedert die land se onafhanklikheidswording in 2011 ’n rol daarin gespeel om die lyding van die bevolking te verlig. Organisasies van die South Sudan Council of Churches (SSCC) – soos die Presbyterian Relief and Development Agency (PRDA) – het getrou gewerk om bystand van kerke binne Suid-Soedan en in die buiteland in te samel vir noodsaaklike fisiese hulpverlening aan lydendes. Tog, ten spyte van organisasies soos die PRDA wat op grondvlak werk, bly die nood groot. Die situasie in Suid-Soedan bied nog ’n geleentheid aan die wêreldwye Kerk om Jesus se liefde en deernis vir die armes op ’n tasbare wyse te demonstreer. Dis maklik om die verskriklike nood te midde van langdurige konflik uit die oog te verloor, maar die Kerk word in Galasiërs daaraan herinner om nie moeg te word om goed te doen nie. Die voortslepende onstabiliteit in Suid-Soedan belemmer die terugkeer van vlugtelinge uit Uganda en ander omliggende lande, wat op sy beurt ’n las op plaaslike gemeenskappe wat óók sonder noodsaaklike hulpbronne moet klaarkom, plaas. Die Kerk kan aanhou om Suid-Soedanse burgers te ondersteun deur te bid vir ’n oplossing vir die konflik, asook vir die gasheergemeenskappe in omliggende nasies wat sukkel om die vlugtelinge, wat deur die konflik ontwortel is, te versorg.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n vreedsame oplossing vir Suid-Soedan se politieke onrus;
  • vir noodsaaklike kos en ander hulpbronne vir diegene wat ly, en dat die Kerk ’n effektiewe rol sal speel in die herstel van Suid-Soedan; en
  • dat die plaaslike kerkgemeenskappe draers van hoop sal wees vir Suid-Soedannese wat in Suid-Soedan en in ander lande woon.

 

 

 

Foto: REUTERS/Siegfried Modola

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES