You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

TERREURVERDAGTES DOODGESKIET EN AANGEKEER IN VERBAND MET BOMAANVALLE IN KAMPALA

Uganda

Ugandese veiligheidsdienste het Maandag 22 November berig dat sewe verdagtes al doodgeskiet en soveel as 106 ander aangekeer is in die voortgesette ondersoek om terreurverdagtes, wat verband hou met die driedubbele selfmoord-bomaanvalle op 16 November in Uganda se hoofstad, Kampala, aan te keer. Vier van die vermeende terroriste is deur teenterrorisme-beamptes in die weste van Uganda doodgeskiet toe hulle probeer het om die grens na die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) oor te steek. Ander sterftes sluit ’n plaaslike Islamitiese leier in, wat glo verantwoordelik is vir die herontwaking van terreurselle in Kampala. Hy is naby die hoofstad geskiet toe hy probeer het om arrestasie te ontduik. ’n Soektog is aan die gang na nog ’n prominente geestelike wat vermoedelik potensiële rekrute radikaliseer en materiaal verskaf om geïmproviseerde ploftoestelle te maak. Die gearresteerde verdagtes is vermoedelik deel van die Allied Democratic Forces (ADF), ’n rebellegroep wat in 2019 trou aan die IS-groep beloof het. Die ADF, wat in die 1990’s in Uganda gestig is, het na bewering baie burgerlikes in die oostelike DRK, waar hulle tans gevestig is, doodgemaak en verplaas. Dinsdag se aanvalle, wat die jongste voorvalle in ’n reeks terreuraanvalle in die afgelope weke in Uganda was, het benewens die selfmoordbomaanvallers die lewens van minstens drie mense geëis en meer as 30 ander beseer. Die eerste bom het naby ’n polisiestasie ontplof, terwyl die tweede aanval slegs minute later uitgevoer is deur twee selfmoordbomaanvallers wat met motorfietse in ’n straat naby die parlementsgebou gery het. Die polisie het glo ’n moontlike derde aanval gefnuik. Sommige ontleders skryf die feit dat Uganda toenemend ’n terrorisme-teiken geword het toe aan Ugandese magte se betrokkenheid by vredesaktiwiteite in die streek en president Yoweri Museveni se beleid wat die Moslem-minderheid kwansuis marginaliseer. Daar heers nie net groot kommer binne Uganda oor die toename in terreuraanvalle nie, maar ook in die streek dat vrede regoor die vasteland bedreig sal word as die woede en vyandelikhede, wat deur die IS-groep uitgebuit word, nie dringend aangespreek word nie.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

UGANDA
BEVOLKING: ±47 MILJOEN CHRISTEN: 83,7%
EVANGELIES: 33,74%
ONBEREIKTE GROEPE: 5 (2,5% van bev.)

’n Kontak van INcontext het genoem dat die Kerk se reaksie op die onlangse vlaag aanvalle in Uganda en die algemene verhoogde veiligheidsbedreiging insluit dat baie plaaslike kerke hul interne veiligheidsmaatreëls waar moontlik opskerp. Dit sluit onder andere die installering van kameras en metaalverklikkers in, die aanstel van wagte, en in sommige gevalle selfs ’n verbod op sakke binne die kerk. Terselfdertyd het ’n nasionale gebedsbeweging, wat vir meer as ’n jaar al aan die gang is, om “krygers” en “wagte” in die Koninkryk van God te mobiliseer om die Koninkryk van duisternis deur georganiseerde geestelike oorlogvoering te konfronteer, verdere momentum gekry. ’n Groep genaamd die Intercessors for Uganda het gebedsaksies in baie gebiede georganiseer as deel van ’n landwye veldtog om God se verlossingsdoelwitte vir Uganda en regoor Afrika te sien realiseer. Die onlangse aanvalle word beskou as ’n reaksie op wat God in die nasie doen, aangesien gelowiges die verantwoordelikheid opneem om vanuit hul posisie en roeping in Christus te bid. Die Intercessors for Uganda glo dat ander stede ook geteiken sal word, in die voortdurende komplot om terreur in die land en in kerke te saai. Die wêreldwye Kerk kan in vennootskap met die Ugandese Kerk bid dat die Here se verlossingsplanne in Uganda sal seëvier, terwyl die planne van diegene wat vernietiging, chaos en vrees wil bring ontbloot en in die wiele gery sal word. Ons kan ook bid dat Ugandese gelowiges waaksaam sal bly, maar nie bevrees sal wees nie, terwyl hulle getuies is van diegene rondom hulle wat geskok en angstig is.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat onopgeloste woede, vyandigheid en spanning tussen groepe op so ’n manier aangespreek word dat die groepe vreedsaam, tot voordeel van Uganda en die streek, kan saamwerk;
  • dat die Here, “sterk en magtig”, die planne van terreurgroepe en enige bose magte wat Uganda, die streek en die vasteland in die algemeen wil benadeel, aan die kaak sal stel en sal stuit; en
  • dat die Kerk in Ugande, waaksaam, biddend en met geloof vervul sal bly terwyl hulle die geestelike stryd wat oor hul nasie woed, voer.

 

 

Argieffoto: REUTERS/Abubaker Lubowa

 

 

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES