You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

AFGHAANSE ASIELSOEKERS VASGEVANG IN AGTERSTAND IN GOEDKEURINGSPROSES

Afghan refugees arrive at TorrejÛn de Ardoz military base in Madrid, Spain – 19  Aug 2021

Volgens Amerikaanse federale amptenare het ’n geraamde 28,000 (soos op 20 November) Afghane, om humanitêre redes, vir tydelike toelating tot Amerika aansoek gedoen. Die toename in spesiale humanitêre visums hou verband met die Taliban se oorname van Afghanistan. Slegs sowat 100 aansoeke is egter tot dusver goedgekeur. Immigrante- ondersteuningsgroepe het hul kommer uitgespreek oor die stadige pas waarteen goedkeuring plaasvind. USCIS (US Citizenship and Immigration Services) sukkel om die toename in aansoeke te verwerk, maar het belowe om meer personeel aan te stel in ’n poging om die groeiende agterstand in te haal. Die stadige pas waarteen goedkeuring plaasvind, het ’n finansiële tol op baie vlugtelinge en/of hul borge geëis wat honderde dollars aan verwerkingsfooie spandeer het. Nog ’n uitdaging is die vereiste vir persoonlike onderhoude. Dit beteken dat diegene wat nog in Afghanistan is, as deel van die keuringsproses, na ’n ander land wat ’n Amerikaanse ambassade het, moet reis. Amerikaanse amptenare het gewaarsku dat die proses maande kan duur en dat daar geen waarborg is dat goedkeuring wel verleen sal word nie. Verder heers daar kommer onder vlugtelinge oor die veiligheid van hul geliefdes wat steeds in Afghanistan is en ’n onbekende toekoms onder die Taliban in die gesig staar. Die Wêreldvoedselprogram het berig dat Afghanistan vinnig besig is om in die wêreld se grootste humanitêre krisis te ontaard, met katastrofiese vlakke van honger wat 8,7 miljoen mense hierdie winter in die gesig gestaar. Pakistan se eerste minister, Imran Khan, het onlangs opdrag gegee dat $28,5 miljoen se humanitêre bystand onmiddellik na Afghanistan versend moet word. Dit sluit voedselkommoditeite, mediese noodvoorrade en winterskuilings in om Afghanistan in sy tyd van nood by te staan.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

AFGHANISTAN
BEVOLKING: ± 39,6 MILJOEN CHRISTEN: 0,02% (bekend)
EVANGELIES: 0.02% (bekend)
ONBEREIKTE GROEPE: 68 (100% van bev.)

Hoe ’n mens die “vreemdeling” verwelkom, spreek boekdele oor die hart van Christus wat binne ’n mens is en dit is ’n toets vir die waardes in die kern van ’n Christen se geestelike identiteit – of ons bereid is om die Woord van God in dade om te sit. 1 Johannes 3:18 sê: “…ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word.” Ten spyte van die agterstand in die goedkeuringsproses en ’n paar harde stemme wat immigrasie teëstaan, is daar berigte van gelowiges regoor Amerika en die wêreld wat met woord en daad liefde bewys. Die CRN (Crisis Response Network)* – ’n netwerk van Christelike vennote wat ’n strategiese, deernisvolle en volhoubare reaksie op krisisse koördineer – help tans Afghaanse gesinne om ’n nuwe lewe in verskillende lande te begin deur finansies vir visumverwerking in te samel. Amerikaanse kerke het die voortou geneem om Afghane te verwelkom wat, op soek na veiligheid, vryheid en die hoop op ’n beter toekoms, uit hul land gevlug het. Baie kerke het hulle daartoe verbind om asielsoekers te help om by hul nuwe lewe aan te pas deur behuising te vind, gesondheidsorg te bied, Engelse klasse te gee, onderwys te verskaf, werk te kry en in ander behoeftes te voorsien. Dit is ook ’n geleentheid vir die Kerk in Amerika om te verenig en teologiese, sosiale en politieke verskille opsy te sit en saam te werk vir die beswil van diegene in dringende nood en ter uitbreiding van die evangelie – om die Goeie Nuus met diegene te deel wat die naam van Jesus nog nooit in hul leeftyd gehoor het nie.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die aansoekproses meer vaartbelyn sal wees, sodat Afghaanse vlugtelinge se aansoeke vinniger verwerk kan word;
  • dat Afghane wat steeds probeer om Afghanistan te verlaat, die nodige hulp sal kry; en
  • dat die Kerk sal voortgaan om deur hul optrede geleenthede aan te gryp om die hoop wat in Christus gevind kan word met diegene te deel, wat desperaat opsoek is na ’n veilige toevlug en ’n nuwe lewe.

 

*Klik op onderstaande skakel om meer uit te vind oor hoe mens met die CRN kan saamwerk om Afghaanse gesinne by te staan: https://crisisresponsenetwork.net/afghanistan-crisis/

 

 

Foto: REUTERS/Diego Radames

 

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES