You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

WATER-OOREENKOMS DIEN AS KATALISATOR OM BETREKKINGE TUSSEN ISRAEL EN JORDANIË TE VERBETER

Jordan drought

Israel se president, Isaac Herzog het op 4 September met Jordanië se koning Abdullah vergader om besprekings voort te sit oor hoe die twee nasies kan saamwerk om ekonomiese en politieke betrekkinge te verbeter. Hulle bou voort op die belangrike waterooreenkoms wat Israel en Jordanië se ministers van buitelandse sake op 8 Julie onderteken het. Ingevolge die water-ooreenkoms sal Israel se waterverkope aan Jordanië byna verdubbel, van 30 miljoen kubieke meter tot 50 miljoen teen Mei 2022. Dit dui op ’n verbetering in die betrekkinge tussen die twee lande, tussen wie spanning die afgelope paar jaar toenemend opgebou het. Ná die vrystelling van die Verenigde Nasies (VN) se verslag oor klimaatsverandering in Augustus, het besprekings oor die skaars beskikbaarheid van water in Jordanië – een van die lande met die grootste watertekort ter wêreld – nog meer krities geword. Gidon Bromberg, die Israeliese direkteur van EcoPeace Middle East, het met Al Jazeera gepraat oor die belangrikheid van die ooreenkoms: “Dit verteenwoordig ’n begrip van wedersydse belange en hoe lande in die streek moet saamwerk om die geweldige uitdagings wat die klimaatkrisis met betrekking tot water en nasionale veiligheid bied, te oorleef.” In ruil vir die water, sal Jordanië sy uitvoere na die Wesbank van $160 miljoen per jaar tot $700 miljoen verhoog en sonkrag aan Israel verkoop, wat Israel sal help om sy doelwit ingevolge die klimaatooreenkoms van 2015 te bereik, om kweekhuisgasvrystellings met 85% te verminder. Onderwerpe wat op die mees onlangse vergadering bespreek is, sluit landbouhandel, energie, volhoubaarheid en moontlike oplossings vir klimaatsaangeleenthede in.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

ISRAEL SE BEVOLKING: ± 8,7 MILJOEN CHRISTEN: 1,73% 
EVANGELIES: 0,69%  
ONBEREIKTE GROEPE: 38 (97% van bev.)
JORDANIË SE BEVOLKING: ± 10,2 MILJOEN CHRISTEN: 2,28%
EVANGELIES: 0,27%
ONBEREIKTE GROEPE: 13 (93,2% van bev.)

Die ooreenkoms tussen Israel en Jordanië is ’n positiewe stap in die rigting van vrede en samewerking, nie net tussen díé twee nasies nie, maar ook binne die breër konteks van die Midde-Ooste. Daar word voorspel dat toegang tot water die volgende paar jaar ’n belangrike faktor in wêreldwye konflik sal wees, aangesien klimaatsverandering steeds verskeie lande, veral in die tipies droë Midde-Ooste, beïnvloed. Daar word voorspel dat “water-oorloë” meer algemeen sal word namate nasies genoeg natuurlike hulpbronne probeer bekom om vir hul bevolkings te sorg. Ooreenkomste soos hierdie een tussen Israel en Jordanië bied egter ’n kompromis en dien as voorbeeld vir ander lande om te volg. “Water is ’n hulpbron waarmee teëstanders werklik maniere kan vind om saam te werk,” het Erika Weinthal, ’n kenner op die gebied van wêreldwye omgewingspolitiek, gesê. Die Kerk kan dankbaar wees oor die nuutgevonde bereidwilligheid van hierdie strategiese nasies om om ’n tafel te sit en vreedsame besluite oor streeksaangeleenthede te bespreek. Sowel Israel as Jordanië het slegs baie klein Christelike bevolkings en die meerderheid van hul inwoners het nog geen kennis van die ware “lewende water” wat in Christus te vinde is nie (Joh. 4). Die Kerk kan bid dat gelowiges in hierdie nasies meer geleenthede sal kry om die hoop van Jesus met ongelowiges te deel en vir hulle te drinke te gee uit die fontein waarvan die water nie opdroog nie (Jes. 58).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir volgehoue samewerking tussen Israel en Jordanië en dat opbouende vredesgeprekke sal floreer;
  • dat die wêreldwye Kerk sal aanhou bid vir hul broers en susters in die Midde-Ooste wat verskeie uitdagings in die gesig staar; en
  • dat die plaaslike kerke in Israel en Jordanië met die boodskap van Christus na hul nie-gelowige naastes sal uitreik.

 

 

 

Foto: REUTERS/Reuters TV screengrab

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES