You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

KONTROVERSIËLE GUINESE PRESIDENT DEUR WEERMAG ONTSETEL

Guinea

Soldate van Guinee se spesiale magte het op Sondag 5 September die president, Alpha Condé, en verskeie ander politici ontsetel en aangehou. Hulle het beheer oor die regering in die land se hoofstad Conakry oorgeneem. Staatsgreepleier, Mamady Doumbouya het die ontbinding van die huidige regering aangekondig, die grondwet ongeldig verklaar, grense tydelik gesluit en ’n landwye aandklopreël ingestel. Sommige lede van die ontbinde kabinet en topamptenare het, nadat Doumbouya hulle ontbied het, Maandag [6 September] in die parlement vergader, waar die junta beloof het om ’n oorgangsregering van nasionale eenheid op die been te bring. Die internasionale gemeenskap, insluitend die Wes-Afrikaanse ekonomiese gemeenskap (Ecowas), het die verwikkelinge veroordeel en met sanksies gedreig indien die president nie vrygelaat en daar nie na die grondwetlike orde teruggekeer word nie. Baie Guineërs het egter die verwydering van die omstrede jarelange leier gevier. Díé nasie in Wes-Afrika beleef onrus sedert Condé verlede jaar ’n referendum om die grondwet te verander gehou het, wat hom toegelaat het om die betwiste verkiesing in Oktober vir ’n derde agtereenvolgende termyn te kon wen. Hoewel hy vereer is omdat hy in 2010 die eerste demokraties verkose leier van Guinee geword het, is Condé gekritiseer omdat hy voortgebou het op Guinee se nalatenskap van korrupsie, om die opposisie gewelddadig te onderdruk en versuim het om die lewens van Guineërs, waarvan die meeste in armoede leef ondanks die land se massa hulpbronne (insluitend bauxite), te verbeter. Doumbouya, hoof van die veiligheidsmagte, hou vol dat hy in die belang van die mense optree, maar skeptici bevraagteken sy motiewe, of dit moontlik beïnvloed is deur ’n onlangse voorstel om militêre salarisse te besnoei. Die voormalige Franse kolonie het ’n lang geskiedenis van militêre oornames en Sondag se putsch het kommer gewek dat daar na ’n militêre bewind teruggekeer gaan word in ’n streek wat sedert die negentigerjare goeie vordering gemaak het op die gebied van meerparty-demokrasie. Guinee is die derde land in Wes- en Sentraal-Afrika wat die afgelope vyf maande ’n gewelddadig magsoorname gehad het.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

BEVOLKING: ± 13,4 MILJOEN CHRISTEN: 4,19%
EVANGELIES: 0.71%
ONBEREIKTE GROEPE: 30 (87% van bev.)

Alhoewel Guinee nie onder die top-50 lande op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys verskyn nie, is dit een van die “lande van kommer” weens gevalle van sosiale vervolging van Christene. Gedurende die onrus en gewelddadige botsings wat toegeneem het sedert die onlangse omstrede verkiesings, was Christene en kerke ook teikens van geweld. Die oorsaak van die geweld teenoor hulle, waarin sommige kerke afgebrand is, is egter onbekend, maar dui op die algemene onbestendige situasie waarin baie Christene in hierdie land met ’n Moslem-meerderheid hulself bevind. Omdat hulle in die minderheid is, kan Christene ook geïsoleer voel, veral in klein dorpies, waar Christene wat in onguns by die gemeenskap en hul leiers is, toegang tot hulpbronne en handelsgeleenthede geweier word. Die Christene is egter van die min bevoorregtes wat kan getuig van die hoop wat nie in hierdie wêreld gevind kan word nie, maar in Christus, hulle Verlosser. In ’n land waar die mense ontnugter is met die huidige leier, het die staatskaping die hoop dat die nuwe leierskap beter bestuur en verbeterde lewenstandaarde sal meebring, laat opvlam. Sommige Guineërs met wie daar onderhoude gevoer is, het vertel dat hulle “vry” voel. Ons weet uit die Skrif dat God leiers wat Hom nie volg nie (bv. Kores), kan beweeg om regverdig op te tree en dat Hy ook die mense se geroep om geregtigheid en ’n regverdige leier hoor. Ons weet egter ook dat dit tevergeefs is om al mens se hoop op wêreldse leiers te plaas, aangesien alle mense op ’n stadium sal misluk om hul goeie voornemens na te kom, selfs dié wat in wêreldse konstruksies, soos grondwette en verklarings van internasionale standaarde vervat is. Die wêreldwye Kerk kan bid dat Guinee met ’n goeie regering geseën sal word, maar nog belangriker dat “die skape sonder ’n herder” hul vertroue in die enigste werklik betroubare en regverdige leier, Jesus Christus sal plaas. Gelowiges in Guinee het die geleentheid om die verlorenes na die Goeie Herder, wat werklik hul beste belange op die hart dra en hulle vir ewig vry kan maak, te lei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat leiers met integriteit en goddelike waardes Guinee (en ander onbestendige Afrika-lande) sal regeer en hul nasies sal help om hul volle potensiaal te bereik op ’n manier wat alle burgers bevoordeel;
  • dat die wil van die Here in Guinee sal geskied en dat Hy hierdie gebeure sal gebruik om die verlorenes na Hom toe te trek; en
  • vir meer geleenthede vir Christene in Guinee om die rede vir die hoop wat hulle in Christus het, met ander te deel (1 Petrus 3:15-16).

 

 

Foto: REUTERS/Souleymane Camara

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES