You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

TUNISIESE PRESIDENT ONTHEF EERSTE MINISTER EN ONTBIND PARLEMENT

Tunisia

Tunisiese president, Kais Saied, het op Sondag 25 Julie die eerste minister, Hichem Mechichi van sy pligte onthef en die parlement ontbind ná betogings en toenemende onrus. Die minister van verdediging, Ibrahim Bartagi, en die waarnemende minister van justisie, Hasna Ben Slimane, is ook uit hul poste verwyder. Saied het volgehou dat sy optrede in ooreenstemming met artikel 80 van die Tunesiese grondwet is, wat die president die mag gee om “buitengewone maatreëls toe te pas in geval van dreigende gevaar vir die nasie”. Diegene wat nie sy optrede goedkeur nie, naamlik die speaker van die parlement en die leier van die opposisie, Rached Ghannouchi, het Saied egter beskuldig van “’n staatsgreep teen die rewolusie en grondwet”. Die parlement sal vir 30 dae opgeskort wees, met die moontlikheid dat die tydperk verleng kan word, indien kalmte nie herstel word nie. Saied het laervlak-amptenare aangestel om kabinetspligte te verrig totdat ’n nuwe eerste minister aangestel is. Tunisiërs het, in die dae voor die besluit om die parlement te ontbind, in die strate betoog teen verslegtende ekonomiese toestande en ’n toename in COVID-19-gevalle en het geëis dat die regering ontbind moet word. Die pandemie het Tunisië se indiensnemingskoers aansienlik beïnvloed en verskeie staatsdienste is opgeskort. Tunisië word dikwels beskryf as een van die meer suksesvolle rekonstruksies na die Arabiese lente in 2011, maar die huidige protesaksies is die grootste nóg in díé land sedert die totstandkoming van hul demokrasie.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

BEVOLKING:

± 11,9 MILJOEN

CHRISTEN: 0,4%
EVANGELIES: 0,03%
ONBEREIKTE GROEPE: 12 (99,2% van bev.)

Baie Christene in Tunisië is buitelanders of het nie Tunisiese burgerskap nie. Ondanks die feit dat Tunisië die 26ste plek op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys beklee, het Tunisië ’n geskatte evangeliese groeikoers van 4,7%, heelwat hoër as die gemiddelde wêreldwye koers van 2,6% (volgens Joshua Project). Die Amerikaanse staatsdepartement se verslag oor internasionale godsdiensvryheid (RIRF) van 2020 noem dat hoewel gelowiges vanuit ’n Moslemagtergrond in Tunisië deur familie, vriende en die breër samelewing gedreig en vervolg word, daar berigte oor toenemende getalle Moslems is wat hulle tot die Christendom bekeer het. In ’n artikel wat in díé verslag (RIRF) aangehaal word, word genoem dat die samelewing se persepsie oor godsdienstige minderhede wat as “vreemdelinge” of “nie werklik Tunisiërs nie” beskou word, ’n rol gespeel het in die bekering van mense uit Islam na die Christendom. Die RIRF noem egter ook dat die aantal aangemelde bekeerlinge vanuit ’n Moslemagtergrond baie laer kan wees as die werklike getal, omdat baie mense hul geloof, uit vrees vir verwerping en vervolging, in die geheim moet beoefen. Alhoewel dit vir die Kerk moeilik kan wees om openlik in Tunisië te funksioneer, getuig Christelike bronne in die RIRF oor die plaaslike kerk se betrokkenheid om mense te help om hul huur te betaal en voedsel en ander basiese voorrade tydens die pandemie te koop. Loof die Here vir die gelowiges se moed om op te tree en plaaslike gemeenskappe in ’n tyd van ekonomiese en geestelike nood te help. Laat ons aanhou bid dat die evangelie wortel sal skiet onder inheemse Tunisiërs in hierdie uiters onsekere en moeilike tye.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir vrede in Tunisië en dat die demokratiese regeringsprosesse vinnig hervat sal word;
  • dat die evangelie onder plaaslike Tunisiërs sal versprei; en
  • vir die voortgesette pogings deur die Tunesiese Kerk om fisiese en geestelike verligting aan gebroke gemeenskappe te bied.

 

 

Foto: REUTERS/Zoubeir Souissi

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES