You can still contribute to the Afghanistan project, via the CRN page.

ETIOPIESE KONFLIK VERDIEP; AMHARA-LEIER ROEP JEUG OP OM TOT DIE STRYD TOE TE TREE

Ethiopia

Agegnehu Teshager, die hoofadministrateur van Amhara, het alle jongmense wat gewapen is, opgeroep om te mobiliseer om die Tigrayaanse magte te bekamp, ​​in die nuutste verwikkelinge in die voortslepende konflik in Ethiopië. Teshager het ’n beroep op almal wat aan die “oorlewingsveldtog” kan deelneem gedoen, om dit te doen nadat die Tigrayaanse magte beheer oor die stad Adi Arkay (net suid van Tigray), in Amhara, oorgeneem het. Amhara en Tigray is in ’n dekadeslange grondgeskil gewikkel, wat die konflik tussen die Tigray People’s Liberation Front (TPLF) en die Ethiopiese regering vererger het. ’n Skietstilstand is in Junie ingestel, maar het nie lank van krag gebly nie, aangesien TPLF-vegters weer beheer oor Mekelle, die hoofstad van Tigray, oorgeneem het en daarna voortbeweeg het na die Amhara- en Afar-gebiede. Troepe van Amhara het saam met die federale regering geveg om die TPLF-magte te verdryf, terwyl leiers van ses ander streke ook troepe gestuur het om die TPLF te beveg. Tigrayaanse-magte het hul voorneme om aan te hou probeer om beheer oor gebiede suid en wes van Tigray oor te neem, uitgespreek en wil landsgrense wat voor die oorlog gegeld het, hervestig. ’n Mediaverbod in Tigray en ’n paar teenstrydige berigte het dit moeilik gemaak om akkuraat te bepaal wie in beheer van watter gebied is. Die TPLF se opmars na die Afar-streek kan problematies wees, aangesien die hoofweg en spoorweg wat die hoofstad, Addis Abeba met Djibouti se seehawe verbind, deur die streek gaan. Die konflik het reeds kritieke humanitêre hulp aan miljoene ontheemde mense, wat nou potensiële hongersnood in die gesig staar, vertraag. Enige verdere ontwrigting van die ekonomiese sektor kan rampspoedige gevolge vir Ethiopië se bevolking hê.

UIT ’N CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

BEVOLKING: ± 116,9 MILJOEN CHRISTEN: 58.3%
EVANGELIES: 18.04%
ONBEREIKTE GROEPE: 37 (29,1% van bev.)

Die konflik tussen Tigray en Amhara het die sosiale en geestelike stryd wat Ethiopië in die gesig staar, verder vererger. Ondanks die feit dat baie Ethiopiërs in Tigray en Amhara vele kulturele gebruike in gemeen het, het die boodskap van stamgebondenheid wat deur die TPLF bevorder is, verdeeldheid in ’n eens verenigde land veroorsaak. Toe die TPLF beduidende politieke mag in die Ethiopiese regering gehad het, het hulle wegbeweeg van die “een Ethiopië”-ideologie en probeer om verdere onafhanklikheid vir individuele stamme te verkry. ’n Kontak van INcontext het die skade wat hierdie stam-ideologie aan Ethiopië aangerig het, veral binne die huidige konflik, verduidelik: “As ’n Christen glo ek nie dat stamgebondenheid God se idee is nie. As ’n nasie is ons [Ethiopië] sterk. Die hele mensdom het baie in gemeen, maar ons as Ethiopiërs het regtig baie in gemeen. Hierdie onlangse stamgebondenheid, hierdie passie vir ’n mens se stam, help glad nie. Die Kerk en kerkleiers veg regtig teen hierdie stamgebondenheid.” Mense van Tigray en Amhara deel ’n soortgelyke kultuur, taal en baie gebruike. Volgens hierdie kontak behoort Ethiopiërs eerder op dit wat hulle in gemeen het te fokus en aan samehorigheid te werk. “Ons leer en preek vir hierdie nasie om saam te staan,” het hy bygevoeg. “Ons bid dat God ’n wonderwerk sal doen; dat mense sal ophou veg en sal begin praat.” Die swaar militêre teenwoordigheid rondom Tigray het dit moeilik gemaak vir hulpwerkers, sendelinge en kerkleiers om toegang tot diegene, wat weens die konflik noodlydend is, te kry. Toe die Ethiopiese regering in Mekelle was, was daar ’n oop kommunikasie-lyn tussen kerkleiers en die regering, wat gelowiges in staat gestel het om te help met die verspreiding van hulp, persoonlike berading en dissipelskap. Die onttrekking van die federale weermag het ook tot ’n groter gevoel van isolasie vir gelowiges in Tigray gelei. Die wêreldwye liggaam van gelowiges kan voortgaan om te bid vir die versterking van die Ethiopiese Kerk, beide in gees en verhoudings.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat daar ’n oplossing vir die konflik gevind sal word en dat alle betrokke partye bereid sal wees om in gesprek te tree;
  • dat kommunikasie en verhoudings tussen die Kerk in Tigray en ander streke herstel sal word en dat die Kerk vooruitgang sal maak in die oorkoming van stamgebondenheid; en
  • dat Ethiopiese gelowiges kreatief sal wees in die maniere waarop hulle uitreik na, en vrede met hul bure en diegene uit ander stamme najaag.

 

 

 

Foto: REUTERS/Giulia Paravicini

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES