BOKO HARAM SE LEIER GLO DOOD

Nigeria

Abubakar Shekau, leier van die Nigeriese jihadiste-groep Boko Haram, is na bewering gedood deur die mededingende militante groep ISWAP (die Islamitiese Staat in Wes-Afrika). ISWAP se leier, Abu Musab al-Barnawi het glo in ’n klankopname gesê dat Shekau gedood is tydens ’n geveg tussen die twee groepe. Shekau is rondom 18 Mei deur ISWAP-soldate agternagesit en het glo plofstof wat aan hom vasgemaak was, laat ontplof. Abubakar Shekau was al verskeie kere in die afgelope twaalf jaar as vermoedelik dood beskou, net om weer in video’s te verskyn en die bewerings te weerspreek. Die plaaslike media het die klankopname die eerste keer gehoor en die inhoud daarvan is deur ander bronne geverifieer. ’n Nigeriese regeringsamptenaar het ’n intelligensieverslag, wat die dood van Shekau bevestig, openbaar gemaak. Ander Boko Haram-navorsers en -ontleders het dit ook bevestig. ’n Groep vegters onder leiding van Abu Musab al-Barnawi het in 2016 van Boko Haram weggebreek en hulself as ISWAP geïdentifiseer. Die twee mededingende Islamitiese ekstremistiese groepe het sedertdien slaags geraak oor ideologiese verskille en verwoesting onder die burgerlike bevolking in Nigerië en sommige buurlande, gesaai. Kenners verskil oor die gevolge wat dit sal meebring, indien Abubakar Shekau werklik dood is. Baie verwag dat ISWAP, wat al jare lank probeer om vegters vanuit Shekau se netwerk te werf, die Boko Haram-vegters sal erf. Daar word verwag dat baie militante noodgedwonge by ISWAP sal aansluit aangesien gesentraliseerde leierskap en finansiële hulp benodig word, wat slegs in ’n ander gevestigde organisasie gevind kan word. Ander veiligheidskenners, waaronder Dickson Osajie, meen dat dit baie onwaarskynlik is dat honderd present van Boko Haram se vegters na ISWAP sal oorloop. “Die vegters wat trou aan Shekau gesweer het, sal wil hergroepeer en Shekau se dood wil wreek, wat ’n groter krisis tot gevolg sal hê,” het hy gesê. Iedergeval sal die geweld na verwagting voortduur en die Nigeriese weermag sal ’n effektiewe strategie moet daarstel om terrorisme en die finansiering daarvan in die streek te bekamp.

Uit ’n Christelike perspektief kan die wedywering tussen die jihadistiese groepe as ’n oplossing beskou word, aangesien dit tot hul wedersydse vernietiging kan lei. Dit is egter nie die Here se hart vir die “gevalle mensdom” nie. “Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3: 9). Die Kerk kan ’n belangrike rol daarin speel dat mense sleutelaspekte van radikale Islamitiese denke beter verstaan ​​om sodoende meer effektief vir Islamitiese ekstremiste te bid. Vrees is uiteindelik die dryfveer agter die keuse om ’n lewe van jihad na te volg. Daar is ’n diepgaande vrees om God te “mis” en nie hemel toe te gaan nie. Die meeste jihadiste toon groot ywer in die gehoorsaamheid aan hierdie leerstellings en om hierdie manier van lewe – en dood – na te volg. Dit is hierdie ywer wat hulle verblind. Radikale Islamitiese interpretasie vereis dat wraak die reaksie op verkeerde dade is; tot so ’n mate dat jihadiste glo dat hulle deur hul god gestraf sal word indien hulle nie die opdrag om te vergeld gehoorsaam nie. Hierdie gees van vergelding hou ’n siklus van moord in hierdie gemeenskappe in stand. Nabeel Qureshi, ’n Amerikaanse Christen apologeet van Pakistanse afkoms, het geskryf: “Ons moet onthou dat… dertien boeke van die Nuwe Testament deur Paulus geskryf is. Paulus was iemand wat Christene vermoor het. En as dit nie vir hom was nie, sou ons nie 1 Korintiërs 13, die liefdeshoofstuk, gehad het nie. Ons sou nie Romeine gehad het nie – die grootste teologiese verhandeling wat ek nog gesien het. Dit het alles gevloei uit die pen van iemand, na wie sommige mense as ’n terroris sal verwys.” As die Here in Saul se hart kon werk, is Hy in staat om in die harte van ekstremiste te werk. Die Kerk moet voortgaan om met medelye te bid dat hulle bevry sal word uit die slawerny aan die geeste van vrees en wraak en dat hulle die waarheid in die Here sal vind.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat Nigerië en sy buurlande ’n doeltreffende manier sal vind om die terroristebedreiging in die Sahel-streek hok te slaan;
  • vir die beskerming van burgerlikes wat vasgevang is in die voortdurende siklus van ekstremistiese geweld; en
  • dat die Here Homself aan hierdie jihadiste sal openbaar as die weg, die waarheid en die lewe, en dat hulle deur hierdie openbaring vrygemaak sal word.

 

 

 

Argief-foto: REUTERS/Zanah Mustapha

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES