AANVALLE NEEM TOE TERWYL DIE ONTTREKKING VAN AMERIKAANSE TROEPE UIT AFGANISTAN VERSNEL

Afghanistan

Die finale fase van die onttrekking van Amerikaanse en Navo-troepe uit Afganistan duur al ’n maand lank. Volgens Amerikaanse amptenare is die proses halfpad klaar en kan dit reeds op 4 Julie of teen die laat somer (Augustus) afgehandel wees. Sedert die Amerikaanse president Joe Biden op 14 April aangekondig het dat alle Amerikaanse troepe Afganistan teen 11 September (die twintigste herdenking van die terreuraanvalle op 11 September) moes verlaat, het geweld in die land dramaties toegeneem, met aanvalle in 27 van die 34 provinsies. Die Verenigde Nasies se hulpmissie in Kaboel se jongste verslag toon dat die aantal burgerlikes wat dood en beseer is, met 29% toegeneem het vergeleke met die eerste kwartaal van 2020. Die eerste maand van die onttrekking van Amerikaanse troepe het nie tot enige noemenswaardige vordering in die vredesonderhandelinge tussen die Afgaanse regering en die Taliban gelei nie. Volgens baie ontleders is dit die enigste manier om die konflik in Afganistan werklik te beëindig. In plaas daarvan lyk dit asof die onttrekking van troepe, Amerika se invloed op die koers van die vredesonderhandelinge (afgeskop deur Amerika se ooreenkoms met die Taliban in 2020), verminder het. Hamid Karzai, voormalige president van Afganistan, is egter oortuig daarvan dat die vredesproses ’n nasionale proses moet word; dat as dit ’n buitelandse projek bly, dit minder vrugbaar sal wees. Sommige is oortuig daarvan dat dit onvermydelik is dat die Taliban weer aan bewind sal kom, terwyl ander meen dat dit nie noodwendig ’n uitgemaakte saak is nie. Daar heers egter groot kommer dat ’n erger burgeroorlog kan uitbreek namate die buitelandse troepe onttrek en ’n magsvakuum geskep word, wat baie mededingende groepe gretig is om te vul. Die Taliban se leier, Haji Hekmat, het kort ná Biden se aankondiging aan die BBC gesê: “Ons het die oorlog gewen en Amerika het verloor.” Die stoere leier het duidelik gemaak wat die gevolge vir diegene wat die land se huidige sekulêre, demokratiese stelsel voorstaan, sal wees indien die Taliban die oorwinning behaal: “Ons wil ’n Islamitiese regering hê wat onderhewig is aan die sjaria-wet. Ons sal met ons jihad voortgaan totdat hulle ons eise aanvaar.” Die Taliban se pas vrygestelde manifes verwerp demokrasie openlik en dring aan op ’n “Islamitiese stelsel [wat] beskryf is en waarvan die beginsels in die Koran, Hadith en Islamitiese regstelsel uiteengesit en vervat is.” Dit is alles in stryd met Afganistan se president Ashraf Ghani se voorstel dat die land se dooiepunt en oorlog deur middel van nuwe verkiesings opgelos moet word. Die Taliban het Ghani se oproep vir ’n skietstilstand tydens Ramadan – ’n maand waarin radikale Islamiete glo dat die “deugde” van jihad toeneem – van die hand gewys.

Uit ’n Christelike perspektief wil dit voorkom asof die Amerikaans-geleide veldtog in Afganistan (2001-2021) min kon uitrig om blywende vryheid vir die Afgaanse volk te bewerkstellig. Dit het egter ’n geleentheid vir die Here geskep om wonderlike dinge deur middel van wonderlike Afgane te doen. Ten spyte van ernstige onderdrukking en vervolging – deur die regering, die Taliban, ander ekstremistiese groepe en die samelewing – het die Kerk in Afganistan gegroei. Volgens ’n skatting van 2013 is die aantal Christene tussen 2,000 en 3,000, teenoor ’n paar honderd ’n dekade tevore. Mindy Belz skryf (in die tydskrif World): “Onder Afganistan se nie-Moslems is Christene wat ’n herlewing van geloof en vinnige groei ervaar het, sedert die bevryding van die Taliban in 2001, gelei deur Amerika. ‘Daar is basies drie soorte gelowiges’, het ’n buitelandse werker in Afganistan (wie se naam weens sekuriteitsredes nie deur World genoem word nie) gesê. ‘Diegene wat gedwing is om die land te verlaat, diegene wat oorleef deur hul geloof ondergronds te beoefen en diegene wat dood is’.” Afganistan se Christene beoefen hul geloof “​’ondergronds” deur in huise en in klein groepies van vertrouelinge te vergader. Moslems kom steeds tot geloof; baie deur middel van aanlyn-evangelisasie. Sommige Afgaanse kerkleiers het Christene geword terwyl hulle as vlugtelinge in die buiteland gewoon het. Hulle preek nou aanlyn of het teruggekeer om ook van ander dissipels te maak. Ondanks al die risiko’s, hou moedige kerkleiers aan om Moslems te evangeliseer en nuwe gelowiges te doop. “Dis net God wat ons bewaar,” het een leier getuig. Jason Mandryk, die redakteur van Operation World, verduidelik: “Waar jong en kwesbare Christelike bewegings bestaan, ​​in lande waar Westerse militêre magte teenwoordig is, is die dinamika altyd kompleks, delikaat en ongemaklik. Die Taliban sal waarskynlik voordeel trek uit die onttrekking van Amerikaanse en Navo-troepe en voordeel vir die Taliban beteken waarskynlik groot probleme en lyding vir volgelinge van Jesus daar. Tog is daar talle voorbeelde in die geskiedenis van God wat op maniere werk wat ons verbaas.” Volgens een Afgaanse kerkleier het baie dinge in Afganistan verander sedert dieTaliban voorheen aan bewind was, maar die Taliban se ideologie is steeds dieselfde: “Hulle beleid is om die plaaslike kerk totaal te ontbloot en gelowiges dood te maak.” As gevolg van hierdie werklikheid ondersoek baie kerkleiers die opsie om uit die land te vlug. ’n Buitelandse werker in Afganistan het egter gesê dat die Taliban se hardnekkigheid belangstelling in bekering laat ontstaan het: “Die Taliban was die dryfveer hoekom mense Islam verlaat, omdat Afgane ekstremisme in die naam van Islam aanskou het. Mens sou kon sê dat die Taliban die groei van die kerk aangespoor het.”

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Afgaanse regering toegewyd sal bly in hul pogings om ’n politieke oplossing te vind;
  • dat die Here sal voortgaan om sy Koninkryk in Afganistan te bevorder; en
  • dat die Here sy volgelinge sal beskerm terwyl hulle volhard in plofbare omstandighede.

 

 

 

Argief-foto: REUTERS/Kai Pfaffenbach

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES