BIDEN WYS GESANT VIR NOORD-KOREA AAN 

Korea2

Die Amerikaanse president Joe Biden het sy diplomatieke standpunt teenoor Noord-Korea hersien nadat hy op Vrydag 21 Mei met die Suid-Koreaanse president Moon Jae-in by die Withuis ontmoet het. Moon het aangedring op vrede met Suid-Korea se noordelike buurland sedert hy in 2017 tot president verkies is. Hy het onlangs sy voorneme om dringende optrede te prioritiseer, deur president Biden te oortuig om die bilaterale gesprek tussen Noord- en Suid-Korea te fasiliteer, uitgespreek. Tydens ’n gesamentlike perskonferensie het Biden en Moon hul kommer oor Noord-Korea se kernprogram uitgespreek en hul gemeenskaplike begeerte dat spanning met Noord-Korea se leier, Kim Jong-un, moet afneem, bevestig. Biden se regering het herhaaldelik die belangrikheid van ’n kernwapen-vrye Koreaanse skiereiland beklemtoon en het sedertdien Sung Kim as spesiale gesant om die kwessie te hanteer, afgevaardig. Sung Kim is ’n veteraanamptenaar van die staatsdepartement. Hy was onder andere die voormalige president Barack Obama se gesant vir Noord-Korea en betrokke daarby dat die voormalige president Donald Trump se beraad met Kim Jong-un die lig gesien het. In sy mees onlangse posisie het hy as Amerika se top-diplomaat vir Oos-Asië gedien, ná termyne as ambassadeur in Suid-Korea, die Filippyne en Indonesië. Sung Kim het ’n diepgaande kennis van Noord-Korea se beleid, wat van groot waarde sal wees vir Biden om ’n nuwe benaderingstrategie daar te stel. Biden het tydens die perskonferensie onthul dat hy bereid sou wees om onder die “regte voorwaardes” met Kim Jong-un te vergader. So ’n beraad sal waarskynlik egter onder ander voorwaardes gehou word as die vorige Trump/Kim-beraad, aangesien Trump ’n beter verhouding met die Noord-Koreaanse leier gehad het. Alhoewel Noord-Korea ’n dringende saak van bespreking was, het Biden en Moon ook die verspreiding van entstowwe in Suid-Korea, klimaatsverandering en kommer oor veiligheid met betrekking tot China se aktiwiteite in die Oos- en Suid-Chinese See bespreek.

Uit ’n Christelike perspektief was Noord- en Suid-Korea die middelpunt van gebed vir die wêreldwye Kerk sedert die skiereiland in die 1940’s en 50’s verdeel is. Ten tye van die skeiding het die groei van die Christelike gemeenskap in verenigde Korea verdeel. Die kerk in Suid-Korea het buitensporige groei ervaar, maar hul broers en susters in Noord-Korea moes weens ernstige vervolging “ondergronds” gaan. Onlangs, toe die geskeduleerde vergadering tussen Biden en Moon aangekondig is, het die hoop in baie mense se harte ontstaan ​​dat so ’n vergadering deure kan oopmaak vir hernieude besprekings en versoeningspogings met Noord-Korea. Gebedsversoeke is aan die wêreldwye Kerk gestuur dat hierdie geleentheid vir verdere vredesgesprekke nie misgeloop moet word nie. Hierdie gebede het reeds vrugte afgewerp sedert Amerika ingestem het om weer ’n poging aan te wend om die spanning in die streek te verminder. Loof die Here vir sy wonderlike tydsberekening en intieme betrokkenheid by wêreldgebeure. Alhoewel daar ’n aanvanklike deurbraak was, is verdere voorbidding nodig. Vir ware, volgehoue ​​vrede op die Koreaanse skiereiland, sal die Here ’n groot werk in die harte van die leiers moet doen.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir goddelike wysheid, dat alle betrokke leiers hierdie situasie doeltreffend sal benader; 
  • dat die Here die Kerk in Suid- en Noord-Korea sal voorberei, indien die tyd wel sou aanbreek dat die volk herenig sou word; en
  • dat die Kerk in Noord-Korea daagliks deur die Heilige Gees bemoedig sal word, terwyl hulle deur baie vorme van vervolging moet volhard.

 

 

Foto: REUTERS/Jonathan Ernst

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES