BETOGINGS IN ALGERIË NEEM TOE IN AANLOOP TOT JUNIE-VERKIESINGS

algeria

Meer as 800 betogers is in verskeie stede in Algerië aangehou terwyl die Hirak (Arabies vir “beweging”) betogings op Vrydag 21 Mei voortgesit het. Die betogings is ’n voortsetting van die onrus wat in 2019 geheers het weens die destydse president Abdelaziz Bouteflika se planne om vir ’n vyfde termyn in die amp te staan. Die Hirak het daarin geslaag om Bouteflika te laat bedank, maar die betogings het voortgeduur namate meer mense daarop begin aandring het dat die politieke elite verwyder moet word en die land na ’n meer demokratiese stelsel moet beweeg. Betogings het elke Vrydag, sedert 22 Februarie 2019, plaasgevind en het voortgeduur totdat die pandemie vroeg in 2020 begin het. Betogings het weer in Februarie 2021 hervat. Die beweging het hierdie keer meer momentum gekry, omdat meer jong mense aan die optogte deelneem. Betogers fokus nou op die huidige president, Abdelmadjid Tebboune se nuwe grondwet. Die grondwetlike referendum (November 2020) was ’n poging om die Hirak se griewe aan te spreek, maar die publiek is nie tevrede met die gewysigde wet nie en het gesê dat dit weinig gedoen het om ’n oplossing vir die grondkwessies van ’n ongebalanseerde magstruktuur te vind. Algerië sal op 12 Junie wetgewende verkiesings hou, maar menseregte organisasies het hul kommer uitgespreek oor die onderdrukking van vreedsame betogings in aanloop tot die stemmery. Die Algerynse regering het sedert die begin van die pandemie beperkings op byeenkomste verskerp. Alhoewel die meeste mense wat sedert Februarie deur die regering aangehou is, vrygelaat is, berig Algerian Detainees (’n nuusbron wat deur joernaliste bestuur word), dat minstens 133 mense steeds in aanhouding is vir verskillende rolle wat hulle in die optogte gespeel het. Tientalle is ook vervolg omdat hulle plasings op sosiale media ten gunste van ’n nuwe regering was. ’n Onlangse verbod op ongemagtigde betogings het verdere kommer gewek dat die regering die reg om byeen te kom onregverdiglik beperk.

Uit ’n Christelike perspektief is Arabies-sprekende Algeriërs volgens Joshua Project een van die mees “onbereikte” mensegroepe ter wêreld (op grond van bevolking bereken), met meer as 29 miljoen mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Algeheel word 99,9% van alle Algeriërs steeds as “onbereik” beskou. Die persentasie Christene in Algerië is baie klein: net 0,1%, waarvan slegs 0,08% evangelies is. Ten spyte van die klein aantal gelowiges is die evangeliese groeikoers 8,1%, ver bo die gemiddelde wêreldwye koers van 2,6%. Hierdie hoë evangeliese groeikoers toon dat hoewel die algehele aantal Christene laag is, daar ’n ontvanklikheid is onder diegene wat wel die evangelie hoor om dit in hul lewens te laat wortel skiet. Volgens godsdienstige leiers in Algerië (verkry deur Joshua Project) is die meeste Christene in Algerië egter buitelanders en is dit steeds die doelwit dat hierdie groei onder inheemse Algeriërs weerspieël moet word. Die huidige betogings dui op ontevredenheid onder die plaaslike bevolking met die status quo, wat moontlik ’n geleentheid kan bied om die evangelie met hulle te kan deel. Algerië vorm deel van die “10/40-venster” – ’n gebied bestaande ​​uit lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, sowel as Asië, wat tussen 10 grade Noord en 40 grade Suid van die ewenaar lê. Hierdie gebied is die tuiste van die meeste Moslems, Hindoes en Boeddhiste ter wêreld. Daar word ook na die “10/40-venster” as die “Resistant Belt” verwys, weens verskeie lande in hierdie area wat vyandig teenoor die Christendom is. Daar is hoë vlakke van vervolging teen Christene in die meeste lande in die “10/40-venster”, insluitende in Algerië. Algerië is nommer 24 (uit 50) op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die hoogste vlakke van vervolging verduur. Alhoewel Algerynse gelowiges (dikwels vanuit ’n Moslemagtergrond) vervolging deur familielede, regeringsowerhede en die burgerlike samelewing in die gesig staar, kan hulle bemoedig word daardeur dat die Kerk histories in tye van vervolging gegroei het. Die wêreldwye Kerk het die geleentheid om saam met en vir Algerynse Christene te bid en saam met hulle te glo dat die evangelie in Noord-Afrika veld sal wen.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n vreedsame verkiesingsproses en dat daar aan die Algerynse burgers se bekommernisse gehoor gegee sal word;
  •  vir die voortgesette groei van die Kerk – veral onder die plaaslike bevolking – ondanks vervolging en verset; en
  • dat die Algerynse Kerk ’n bron van hoop en bemoediging, te midde van hierdie polities onstuimige tyd, sal wees.

 

 

Foto: REUTERS/Ramzi Boudina


print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES