RUSLAND BEGIN OM TROEPE VAN DIE OEKRAÏNSE GRENS TE ONTTREK

Russia

Rusland het militêre eenhede van die Oekraïnse grens en die Krim-skiereiland begin onttrek, na weke van verhoogde spanning oor die opbou van Russiese troepe in die gebied. Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu het op Donderdag 22 April, gesê dat die doelwitte van die omvattende militêre maneuvers bereik is. Hy het die eenhede beveel om weer na hul permanente basisse terug te gaan, maar alle swaar wapentuie beveel om by die Pogonovo-skietbaan (sowat 160km oos van die Oekraïnse grens) te bly, vir nog ’n oefening later vanjaar. Eenhede uit die 58ste en 41ste leër-afdelings het op Vrydag [23 April] na hul basisse begin terugkeer, tesame met verskeie lugverdediging eenhede. Die proses om troepe terug te stuur moet teen 1 Mei afgehandel wees. Volgens Navo was dit die grootste opbou van troepe sedert 2014, toe Rusland separatiste in die Krim gesteun het en die skiereiland geannekseer is. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het die besluit verwelkom, maar het volgehou dat die Oekraïne op hul hoede sal bly. Volgens die Oekraïnse minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, sal Kiëf op intelligensie-bevestiging van die onttrekking wag. Kuleba het ook sy dank aan Westerse nasies vir hul ferm en onmiddellike ondersteuning betuig. Groot kommer het die afgelope paar weke onder Navo en lede van die EU geheers, wat geweldig druk op Rusland uitgeoefen het om die streek te demilitariseer. Die Kremlin het volgehou dat die opbou van troepe ’n militêre oefening was en het aangevoer dat dit hul reg is om troepe oral in Russiese gebiede te mobiliseer. Te midde van Navo se militêre oefeninge in die Swart See en hewige Amerikaanse sanksies teen Rusland, het president Vladimir Poetin vanaf 24 April tot 24 Oktober beperkings op buitelandse oorlogskepe in verskeie gebiede van die Swart See ingestel. Die Oekraïne beweer dat dit onwettig is, aangesien dit hul land ekonomies sal benadeel deurdat dit toegang tot Oekraïnse hawens via die Kerch-seestraat beïnvloed.

Uit ’n Christelike perspektief, terwyl spanning langs die grens van die Oekraïne en Rusland toegeneem het, het versoeke om gebed oor die hele wêreld uitgegaan. Slegs twee weke later begin ons die vrug van hierdie gebede sien — Russiese troepe begin, sonder enige vyandelikheid, te onttrek. Die Skrif verseker ons as gelowiges dat, wanneer ons in God en die woorde wat ons bid, glo, Hy in staat is om te voorsien [Markus 11:23-24]. Loof die Here vir sy ingryping en die krag van gebed. Hoewel Rusland sy troepe uit die gebied begin onttrek het, heers daar steeds spanning en konflik binne die Donbas-streek in die Oekraïne. Ten spyte van jare se vyandelikhede, is die Kerk aan die Oekraïnse kant van die “kontaklyn” egter besig om te groei. Daar word berig dat byna 50 nuwe kerke en sendinggroepe in Donetsk en Lugansk (Donbas-streek) geplant is. Daarbenewens is 150 nuwe sendelinge opgelei en, met die ondersteuning van die gemeenskap, “veld” toe gestuur. “Ons dank God dat Hy in ’n tyd van oorlog en lyding iets moois doen,” het een van INcontext se medewerkers gesê. Gelowiges aan die separatiste kant van die “kontaklyn” beleef egter ’n heel ander werklikheid. Separatistiese leiers erken slegs die Russies-Ortodokse geloof en baie evangeliese gelowiges word vervolg. Daar is berigte oor geteikende aanvalle op gelowiges en dit is ’n uitdaging vir die meeste van hulle om in hul geboue bymekaar te kom vir eredienste en dies meer. Die Kerk wêreldwyd moet steeds betrokke wees by gebedsaksies en voorbidding vir hierdie streek.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat daar ’n algehele afname in spanning en druk op die grens sal wees en loof die Here terselfdertyd vir dít wat reeds bereik is;
  • vir ’n deurbraak in gesprekke oor ’n nie-militêre oplossing vir die Donbas-konflik; en
  • vir die voortgesette groei van die Kerk in die Oekraïne, veral vir dié in die gebiede wat deur separatiste beheer word.

 

 

Foto: REUTERS/Stringer

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES