HAÏTIAANSE ASIELSOEKERS KWYN IN MEKSIKO

Haitian refugees

Te midde van ’n toename van migrante op die grens tussen Amerika en Meksiko, is daar ’n groep mense wat dikwels buite rekening gelaat word. Daar woon tans ongeveer 4,000 mense van Haïti in Tijuana, Meksiko (’n stad naby die grens). Hierdie Haïtiane staar toenemende vlakke van diskriminasie deur die owerhede en ander asielsoekers in die gesig, terwyl hulle op die uitslae van hul asielaansoeke wag. Daar is verskeie berigte wat beweer dat Haïtiaanse asielsoekers oorgeslaan is tydens die verspreiding van voedsel, dat Haïtiaanse kinders by kamp-skole geweier word en dat daar oor die algemeen ’n negatiewe ingesteldheid jeens Haïtiane in asielkampe langs die grens heers. Haïtiane is die sesde grootste groep mense wat by Amerika om asiel aansoek doen. Die kans dat Haïtiane egter asiel kry, is relatief laag. Volgens data wat deur die Universiteit van Syracuse gepubliseer is, het Amerika die afgelope 20 jaar (2001 tot 2021) 82% van alle Haïtiaanse asielaansoeke geweier, terwyl die koers vir mense van ’n ander oorsprong gemiddeld tussen 50-65% is. Mense van Haïti emigreer al etlike jare weens politieke en sosiale onrus, sowel as verslegtende ekonomiese toestande. Die verwoestende aardbewing in 2010, waarin ongeveer 250,000 mense dood is, het ook ’n massa-uittog tot gevolg gehad, omdat miljoene mense na die ramp dakloos gelaat is. Amerika was nie aanvanklik die topbestemming vir baie mense wat uit Haïti gevlug het nie. Brasilië was ’n gewilde keuse, aangesien die regering duisende Haïtiane die geleentheid gegee het om aan infrastruktuurprojekte, in aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2014 en die Olimpiese Spele in 2016, te werk. Nadat die werkspermitte egter verstryk het, het baie Haïtiane hul weg na Amerika begin maak. Baie het gehoop dat Biden se regering ’n meer toegeeflike immigrasiebeleid sou implementeer, maar sedert president Biden met sy ampstermyn begin het, was daar reeds 28 deportasie-vlugte terug na Haïti, wat meer as 1,200 mense na dié eiland teruggestuur het. Haïtane wat asiel in Amerika geweier word en toemend meer diskriminasie in Meksiko in die gesig staar, sê dat hulle geen heenkome het nie en besig is om hoop te verloor.

Uit ’n Christelike perspektief beweer byna 90% van Meksikane dat hulle Christene is. Verskeie nie-winsgewende en bedieningsorganisasies werk met asielsoekers by die grens, maar baie van hierdie groepe werk grotendeels met Sentraal-Amerikaanse asielsoekers. Hulporganisasies en plaaslike kerke verleen dikwels hulp aan diegene wat naby die grens in tentkampe woon. Baie Haïtiane het egter (veral onlangs) hierdie tentkampe verlaat weens die swak behandeling wat hulle in die gesig staar en het dus nie die hulp wat daar gebied word ontvang nie. Haïtiaanse asielsoekers ondervind ook ander uitdagings in Meksiko wat baie Sentraal-Amerikaanse immigrante nie ondervind nie. Die meeste van hulle praat byvoorbeeld nie Spaans nie en lyk ook fisies anders, wat dit moeiliker maak om by die plaaslike bevolking in te pas. Hierdie verskille het daartoe gelei dat baie Haïtiane in Meksiko met ernstige diskriminasie te kampe gehad het. Die Bybel praat breedvoerig oor hoe vreemdelinge behandel behoort te word. “Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.” (Levitikus 19:33-34). Die lot van Haïtiaanse asielsoekers dien as ’n herinnering aan die plig van Christene in die gasheergemeenskappe om na die vreemdelinge in hul land om te sien en nie net na diegene wat die meeste soos hulself is nie. Ander asielsoekers, waarvan baie van lande met ’n Christen-meerderheid afkomstig is, behoort ook na die Haïtiane in hul midde om te sien, juis omdat hulle met die stryd waarmee Haïtiane te kampe het, kan vereenselwig.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat asielsoekers van Haïti die hulp en hulpbronne sal ontvang wat hulle benodig om in ’n vreemde land en kultuur te woon;
  • dat die Meksikaanse Kerk geleenthede sal soek om na lydende en hopelose Haïtiane in hul gemeenskappe uit te reik; en
  • dat die wyer gemeenskap van gelowiges van oor die wêreld heen nie moeg sal word om asielsoekers, vlugtelinge en immigrante, wat in hulle midde ly, te ondersteun nie.

 

 

 

Argief-foto: REUTERS/Jose Luis Gonzalez

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES