CHINA, IRAN TEKEN OMVATTTENDE 25 JAAR SAMEWERKINGSOOREENKOMS

China-Iran

China en Iran se ministers van buitelandse sake het op 27 Maart ’n samewerkingsooreenkoms, geldig vir 25 jaar, onderteken om hul jarelange ekonomiese en politieke alliansie te versterk. Die ooreenkoms, wat sedert 2016 onder bespreking was, het die lig gesien op die vyftigste herdenking van die totstandkoming van diplomatieke betrekkinge tussen Iran en China. Dít, op ’n tydstip terwyl hul belangrikste belange oorvleuel te midde van verskeie verwikkelinge – internasionaal en in die streek. Die ooreenkoms het sowel internasionaal as binnelands gemengde reaksie ontlok, hoewel dit grootliks as ’n wen-wen-situasie vir beide die vennote beskou word. Van die vernaamste voordele wat die ooreenkoms vir China inhou, hou verband met die uitbreiding van hul invloed in die Midde-Ooste en toegang tot Iranse bates, soos hawens en olieverkope. Dit is nog ’n geografies belangrike stap in die uitbreiding van China se One Belt One Road (OBOR), andersins bekend as die Belt-en-Pad-inisiatief (BPI) – ’n multi-biljoen infrastruktuurskema en ekonomiese ontwikkelingsinisiatief wat ten doel het om die “nuwe syroete” tot stand te bring. Dit sal China met ongeveer 137 lande in Asië, Afrika en Europa, deur samewerkingsooreenkomste wat wedersyds voordelig is, verbind. Hoewel OBOR-projekte as kontroversieel beskou word – deels as gevolg van hul vaagheid, die vatbaarheid vir misbruik deur Chinese ondernemings sonder regeringstoesig, die risiko van “skuldstrik-diplomasie” en die twyfelagtige werklike wins vir die plaaslike bevolking in projeklande – word daar gehoop dat dit lewe in Iran se sukkelende ekonomie sal blaas, met China se belegging van $450 miljard in vervoer, energie, petrochemikalieë en ander sektore. Die ooreenkoms dek ook politieke-, militêre- en verdedigingsamewerking. Iran, wat ’n geruime tyd lank sowel in die streek as internasionaal geïsoleer is, het China as “’n vriend in moeilike tye” bestempel. Albei lande is tans onderhewig aan verskillende Amerikaanse sanksies en betrekkinge met die wêreld se sterkste ekonomie is algeheel aan die verbrokkel. Hierdie ooreenkoms kan die druk wat Amerika en sy bondgenote uitoefen, verlig. Iran se bondgenootskap met China kan ook Amerika dwing om sy beleid jeens Iran te heroorweeg, veral met betrekking tot sy kernooreenkoms (formeel bekend as die Joint Comprehensive Plan of Action), waaraan Amerika amptelik in 2018 onttrek het.

Uit ’n Christelike perspektief bestaan daar kommer oor die versterking van bande tussen twee outoritêre lande. In wêreldse terme kan daar egter goed daaruit voortspruit. Magsbalans kan lei tot gesonde verandering, wat regerings dwing om die manier waarop hulle tradisioneel met spesifieke nasies omgegaan het, te herevalueer. Dit kan op sy beurt moontlik tot meer konstruktiewe en gebalanseerde verhoudings lei. Een van die grootste uitkomste kan egter op geestelike vlak wees; as twee lande (China en Iran) waarin die kerk al vir jare vervolg word, hande vat, kan hulle hul pogings om die Koninkryk uit te brei moontlik eksponensieel vergroot. Iran se regering, waar Islam in hul politieke stelsel verweef is, beskou die bekering van Moslems tot die Christendom as ’n poging deur Westerse lande om die Islamitiese heerskappy van Iran te ondermyn; dus is die vervolging van gelowiges erg. Die Chinese Kommunistiese Party huldig ’n soortgelyke oortuiging dat die Christendom in China ’n Westerse poging is om hulle te ondermyn. Aangesien dit egter Christus is wat sy kerk bou (Matteus 16:18), nie enige land of stelsel nie, kan ons Hom vertrou om dit te doen, selfs met behulp van menslike konstruksies soos hierdie mees onlangse ooreenkoms. Die verhoogde samewerking tussen die twee nasies op politieke/ekonomiese vlak kan lei tot ’n versterking van die Kerk in albei lande, sonder oënskynlike Westerse invloed.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n goddelike reaksie deur Westerse lande en diegene wat vyandiggesind teenoor Iran en China is;
  • dat die Here se wil deur hierdie versterkte alliansie tussen China en Iran, sal geskied en dat die Kerk in albei lande versterk en bemoedig sal word; en
  • dat die groter liggaam van Christus méér vir die kerk in hierdie twee nasies sal bid en intree.

 

 

 

Foto: REUTERS/Wana News Agency

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES