BETOGERS IN MIANMAR EIS DEMOKRASIE IN AANLOOP TOT ASEAN-GESPREKKE

Myanmar

Broenei, die voorsitter van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (Asean) het op Maandag 5 April versoek dat ’n vergadering in Jakarta belê moet word om ’n “onderhandelde oplossing” vir die voortdurende onrus in Mianmar te probeer vind. Hierdie versoek deur Broenei is die mees onlangse deur ’n lid van dié vereniging van tien lande, wat die leiers van Asean vra om vir gesprekke voor te berei. ’n Datum vir die vergadering is nog nie vasgestel nie. Indonesië het ook ’n beroep op Asean (waarvan Mianmar ’n lid is) gedoen om met gesprekke te begin, ondanks die vereniging se geskiedenis om nie by binnelandse konflikte betrokke te raak nie. Mianmar is reeds twee maande lank in onrus gewikkel ná ’n militêre staatsgreep wat die verkose regering, onder leiding van Aung San Suu Kyi, omvergewerp het. Die weermag beweer dat verkiesingsbedrog gepleeg is, maar die verkiesingskommissie het geen bewyse van korrupsie gevind nie. Suu Kyi word sedert die staatsgreep aangehou en staan ​​tereg op aanklagte soos die oortreding van die geheimhoudingswet, die besit van onwettige tweerigtingradio’s en die publisering van inligting wat vrees kan ontlok. Die militêre junta het met geweld op die aanhoudende betogings gereageer. Volgens aktiviste en menseregtegroepe staan die aantal sterftes op 557, waaronder 100 sterftes op 27 Maart alleen plaasgevind het – die dodelikste dag tot dusver, sedert die betogings begin het. Die junta het gepoog om die betogings te onderdruk deur ’n aandklokreël af te dwing, om die aantal mense wat byeen kom te beperk, en toegang tot die internet dwarsoor die land te blokkeer. Die protesoptrede word grotendeels deur jongmense gereël, maar mense uit alle oorde van die samelewing het by hulle aangesluit. Onderwysers, prokureurs, studente en regeringswerkers het almal aan die betogings deelgeneem. Verskeie lande het die staatsgreep en die daaropvolgende geweld veroordeel en sanksies op Mianmar se weermag ingestel. Die VN het onlangs ’n verklaring uitgereik waarin gewaarsku word dat Mianmar die gevaar loop om in ’n burgeroorlog te verval as daar nie binnekort ’n oplossing gevind word nie.

Uit ’n Christelike perspektief is ongeveer 90% van Mianmar se bevolking Boeddhisties, met ’n Christelike minderheid van ongeveer 8% (waarvan sowat 5% evangelies is). Onder die vorige dekades van militêre bewind het baie Christelike minderheidsgroepe, soos die Chin, Kachin en Karen, swaar vervolging gely. Sommige Christelike godsdiensleiers vrees dat ’n terugkeer na militêre heerskappy weer tot hoër vlakke van vervolging kan lei. Die Karen etniese groep was een van die eerste mensegroepe in Mianmar wat volgelinge van Christus geword het. Ongeveer 20% van die Karen-mense is Christene. Dít, tesame met die groep se beywering vir meer outonomie, het hulle histories ’n teiken van die weermag gemaak. Onlangse lugaanvalle deur die junta het duisende Karen genoop om na Thailand te vlug. Baie Christene regoor Mianmar het aan die betogings deelgeneem, ondanks die moontlikheid dat die weermag hulle onder die soeklig sal plaas. “Die leiers in hoë posisies in die Kerk het die meeste om te verloor,” het Ellis Craft, direkteur van die bediening in Suidoos-Asië vir die Amerikaanse sendingorganisasie, Reach A Village, gesê. “As hulle hul stem laat hoor, kan hulle en hul denominasies geteiken word en in die gevangenis beland, onder huisarres geplaas word of dodelike geweld deur die weermag in die gesig staar, soos in die verlede.” Christene benodig dus baie onderskeidingsvermoë, terwyl hulle die omvang van hul betrokkenheid by die betogings oorweeg, aangesien hulle hul getuienis teenoor beide hul gemeenskappe en die gesaghebbendes (tans die weermag) moet handhaaf.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n diplomatieke oplossing, ’n einde aan die dodelike geweld en skending van regte en ’n vreedsame terugkeer na burgerlike regering;
  • dat die Kerk met wysheid en onderskeiding, met betrekking tot hul betrokkenheid by die betogings, sal optree; en
  • dat die Kerk ’n bron van hoop en vrede sal wees en vir beskerming te midde van meer aandag en vervolging, en dat die tradisioneel weerstandige Birmese volke se harte teenoor die evangelie sal versag.

 

 

Foto: REUTERS/Dawei Watch

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES