NIGER IS HOOPVOL OP ’N VREEDSAME MAGSOORDRAG NA AFLOOP VAN VERKIESING

Niger

Stemme word steeds getel na afloop van Niger se tweede rondte verkiesings in dié land se vyfde presidensiële verkiesing. In die huidige stemtellery, het Mohamed Bazoum vroeg reeds ’n voorsprong op die voorheen onttroonde Mahamane Ousmane (1993-1996) gekry. Bazoum is die gunsteling om die verkiesing te wen, aangesien hy ’n oorwinning van 39,3% in die eerste rondte verkiesing op 27 Desember 2020 behaal het. Hy is ook die voormalige minister van binnelandse sake en was Mahamadou Issoufou, uitgaande president van Niger, se regterhand. Mahamadou het vrywilliglik uitgetree nadat hy twee vyf jaar termyne in die amp voltooi het. Hoewel die tweede rondte verkiesing van 21 Februarie daarop gemik was om die eerste vreedsame magsoordrag van een demokraties verkose leier na ’n ander sedert Niger in 1960 onafhanklikheid van Frankryk verkry het, te bewerkstellig, was daar pogings deur Islamitiese militante groepe om die proses veral in die grensgebiede te destabiliseer. Die mees onlangse poging het op 21 Februarie plaasgevind, toe sewe verkiesingswerkers dood en drie ernstig gewond is toe die voertuig wat hulle na die stemlokale in die suidweste vervoer het, oor ’n landmyn gery het. Vanuit die westelike streek van Niger, wat aan Burkina Faso en Mali grens, het berigte gekom dat gewapende groepe wat aan Al-Kaïda en die Islamitiese Staat (IS) verbonde is, meer vasstrapplek gekry het. Te midde van meer gereelde aanvalle, is duisende soldate landwyd ontplooi om ’n vreedsame verkiesing te verseker. Die uitslag van die verkiesing het groot internasionale aandag gekry, aangesien ’n vreedsame, demokratiese magsoordrag as ’n “oorwinning” in hierdie plofbare Sahel-gebied beskou sal word.

Uit ’n Christelike perspektief is Niger al as die toonbeeld van samewerking en vreedsame naasbestaan tussen Christene en Moslems beskou. Ten spyte van wettige vrye lewensreg en godsdiensvryheid, het die Christen-minderheid (minder as 1 % van die bevolking), al vervolging en gewelddadige aanvalle in sommige dele van hierdie land, wat ’n Moslem-meerderheid het, beleef. ’n Ander bekende, militante groep wat Christene in die suide van Niger teiken, is Boko Haram. Elders, in grensstreke wat onder Islamitiese beheer is, is Christene verhoed om godsdiens-aktiwiteite te beoefen. Strategieë om vrees in te boesem en inter-gemeenskap en inter-godsdiens konflik uit te lok, is deur die biskoppe van Niger en Burkina Faso veroordeel. Hulle het Christene aangemoedig om te bid en waaksaam te bly in ’n tyd van hoop en geloof. Presidentskandidaat Bazoum was behulpsaam in die formulering van ’n nuwe wet op godsdienspraktyke terwyl hy minister van binnelandse sake was. Dié wetgewing was bedoel om “fundamentalistiese en ekstrimistiese invloede” in bedwang te hou en tegelykertyd “godsdiensvryheid” ingevolge die grondwet te behou. Een kenmerk van hierdie nuwe wetgewing, is die totstandkoming van drie nasionale godsdiensrade vir Moslems, Christene en ander godsdiensgroepe. Dié rade sou skakeling tussen die regering en die betrokke godsdiensgemeenskappe bewerkstellig met betrekking tot sake soos fondsinsameling, godsdiensonderrig en die inhoud van preke. Dit is veral bedoel om buitelandse en moontlike ekstremisitiese invloede te monitor.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat ’n vreedsame magsoordrag sal plaasvind wat ’n era van stabiliteit en ekonomiese ontwikkeling kan inlui wat baie Nigerese uit armoede kan lig;
  • dat die regering en streeksleiers daarin sal slaag om terrorisme en militante ekstremisme in die streek effektief te bekamp; en
  • dat die regering nie net sal voortgaan om Christene toe te laat om hulle geloof wettiglik te beoefen nie, maar ook om proaktiewe beskerming teen vervolging en geweld te bied.

 

 

 

Foto: Aljazeera

https://www.aljazeera.com/wp-content/uploads/2021/01/2020-12-29T110316Z_1941220089_RC2ZWK9WGE5R_RTRMADP_3_NIGER-ELECTION.jpg?resize=1200%2C630

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES