NEGE DOOD IN HOTELAANVAL IN SOMALIESE HOOFSTAD

Somalia

’n Selfmoord-motorbomaanval, gevolg deur ’n skietgeveg tussen die Al-Kaïda-gekoppelde Islamitiese groep Al-Shabaab en Somaliese veiligheidsmagte, het op Sondag, 31 Januarie, tot nege sterftes gelei, van wie vier opstandelinge was. Dié skermutseling het in die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe, by die Hotel Afrik plaasgevind. Dié hotel staan ​​bekend as ’n vergaderplek vir Somaliese regeringsamptenare. ’n Plaaslike polisiekaptein het gesê dat ’n aantal kabinetslede en senior militêre beamptes tydens die aanval in die gebou was. Mohamed Hussein Roble, die eerste minister, het in ’n verklaring bevestig dat Mohamed Nur Galal, ’n voormalige militêre generaal, onder die gesneuweldes was. Dié gewelddadige beleg het plaasgevind net enkele weke nadat die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, beveel het dat ongeveer 700 Amerikaanse troepe wat plaaslike veiligheidsmagte teen militante groepe, onder andere ook Al-Shabaab, ondersteun het, moes onttrek. Daar word gevrees dat die onttrekking tot verdere onstabilitiet in die land, wat volgende maand verkiesings hou, kan lei.

Uit ’n Christelike perspektief is Somalië een van die gevaarlikste lande ter wêreld om ’n Christen te wees. Na raming is daar slegs ’n paar honderd Christene in die land. Daar is geen staande kerkgebou in Somalië nie en gelowiges moet noodgedwonge in die geheim en in baie klein groepies vergader om opsporing te voorkom. Al-Shabaab-militante is daarvoor bekend dat hulle jag maak op volgelinge van Christus, veral diegene wat die rug op Islam gekeer het. Islam word as ’n belangrike element van Somaliese identiteit beskou. Al-Shabaab se aktiwiteite spoel gereeld oor na die naburige Kenia en as gevolg hiervan versmaad die media en openbare mening Somaliërs dikwels. Daar was egter die afgelope tyd, veral onder evangeliese Christene in Kenia, ’n teologiese verskuiwing, ingevolge waarvan Somaliërs as “Samaritane”, wat ’n Verlosser nodig het, beskou word – dít teenoor die openlike vyandigheid van die verlede. Ondanks die geweldige risiko om aan militante in hulle omgewing blootgestel te word, reik Keniaanse gelowiges steeds uit na hulle Somaliese bure. Baie Somaliese Moslems studeer in Kenia, wat ook aan Keniaanse gelowiges die geleentheid bied om die evangelie met hulle te deel.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n doelbewuste, geestelike aanslag teen “redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word”, in Somalië;
  • dat daar ’n sterk Kerk onder die mense van Somalië sal groei – ’n Kerk wat op Jesus staatmaak en honger en dors na sy geregtigheid; en
  • dat Keniaanse gelowiges sal voortgaan om die weë tot hul beskikking te gebruik om die Goeie Nuus van Christus met hulle bure van Somalië te deel.

 

 

 

Foto: REUTERS/Feisal Omar

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES