MUSEVENI AS OORWINNAAR AANGEWYS IN UGANDA SE BETWISDE VERKIESING

Uganda

Yoweri Museveni is op 14 Januarie ’n sesde termyn as president van Uganda gegun in ’n verkiesing waaraan 52% van die Ugandese bevolking deelgeneem het. Museveni, wat sedert 1986 aan  bewind is en een van Afrika se langsdienende leiers is, het 59% van die stemme verower. Sy vernaamste teenstander was die eertydse sanger Robert Kyagulanyi, meer algemeen bekend as Bobi Wine. Die uitslag van die verkiesing het etlike betogings tot gevolg gehad, aangesien Wine sy volgelinge aangehits het om die uitslag te verwerp. Twee mense is dood en 23 is in die daaropvolgende betogings in hegtenis geneem. Aangesien verskeie opposisieleiers hulle kommer uitgespreek het oor verkiesingsbedrog en stemknoeiery, is ’n waarnemerspan deur die Afrika-unie gestuur om die verkiesing te monitor. Dié span het egter later as verwag daar aangekom (weens COVID-reisbeperkings) en kon slegs stemlokale in die hoofstad, Kampala, en sy omliggende gebiede monitor. Onreëlmatighede is wel deur die groep aangemeld. Hoewel Museveni nog ’n termyn verower het, het sy vise-president en verskeie van sy kabinetslede setels aan Wine se National Unity Platform afgestaan. Internetonderbrekings vóór die verkiesing het die beskikbaarstelling van inligting oor die verkiesingsproses bemoeilik. Amerika en Brittanje het gevra vir ’n ondersoek na die geldigheid van die resultate.

Uit ’n Christelike perspektief: Gelowiges in Uganda het hul kommer oor die verkiesing en veral die wyse waarop veiligheidsmagte opposisielede hanteer het, uitgespreek. Die situasie bly gespanne en gelowiges het spesifiek versoek dat daar vir hulle volk en sy leiers gebid word. Uganda huisves byna 1,5 miljoen vlugtelinge, van wie almal op die regering se unieke beleid staatmaak: vlugtelinge in Uganda ontvang ’n stuk grond om op te woon; op sy beurt ontvang die regering miljoene aan buitelandse hulp om sy kritieke regeringsplanne mee te finansier. Ondanks toenemende ontevredenheid met die huidige regering, is daar diegene wat stabiliteit voorstaan en daarom vir Museveni ondersteun. Die Kerk in Uganda sal in die komende maande ’n belangrike rol speel, naamlik om deurentyd hul strewe na vrede voor oë te hou – ongeag wie aan bewind is.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat veiligheidsmagte selfbeheersing sal toepas en die algemene bevolking ’n gevoel van kalmte sal ervaar;
  • dat verkiesingsbeamptes hulle pligte met integriteit, in belang van die land en sy burgers, sal uitvoer; en
  • dat die Kerk gedurende hierdie tyd van tweespalt, ’n bron van bemoediging en eenheid sal wees.

 

 

 

Foto: REUTERS / Baz Ratner

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES