COVID-19: JORDANIË WORD EERSTE LAND OM VLUGTELINGE IN TE ENT

Jordan

Volgens die VN het Jordanië die eerste land geword wat VN-geregistreerde vlugtelinge by sy COVID-inentingsplan ingesluit het. Raia Alkabasi, ’n Irakkese vlugteling, is heel eerste deur Jordanië se departement van gesondheid ingeënt. Volgens die VN se hoëkommissariaat vir vlugtelinge (VNHKV), het 51 uit die 90 lande wat tans entstowwe ontwikkel, hulle daartoe verbind om vlugtelinge by die verspreiding van die entstof in te sluit. Sedert Maart 2020 het Jordanië vlugtelinge by sy COVID-reaksieplan ingesluit. Die infeksiesyfer onder vlugtelinge in Jordanië het op ongeveer 1,6% bly staan, wat laer is as die 3% onder die algemene bevolking. Na aanleiding van die aanbeveling om diegene in die bevolking wat die hoogste risiko’s trotseer, eerste in te ent, sal ouer vlugtelinge, of dié wat ’n immuniteitsgebrek of onderliggende siektetoestande het, as deel van die aanvanklike implementering ingeënt word. Die VNHKV het verder verklaar: “Die sleutel tot die stuiting van die pandemie, is deur te verseker dat vlugtelinge by die aanvanklike toediening van die entstof ingesluit word. Deur vlugtelinge, ander ontheemdes of nie-burgers van die inentingsveldtog uit te sluit, stel dié onderskeie groepe aan voortdurende oordrag van die virus bloot, met die verdere gevolg dat die nasionale bevolking óók daaraan blootgestel word.” Jordanië huisves vlugtelinge uit onder andere Sirië, Irak, Jemen en Libië, waarvan 80% in stedelike gebiede woon waar die risiko van verspreiding van die virus groter is. As gevolg van die ekonomiese insinking wat deur die pandemie veroorsaak is, is die VNHKV in Jordanië besig met ’n finansieringsveldtog sodat ’n bykomende $370 miljoen ter ondersteuning van die vlugtelinge gegee kan word. Filippo Grandi, die VN se Hoëkommissaris vir vlugtelinge, het hieroor gesê: “Jordanië het weereens voortreflike leierskap en solidariteit getoon deur die manier waarop hulle vlugtelinge huisves. Die land het vlugtelinge by elke aspek van hulle openbare gesondheidsplan ten opsigte van die pandemie ingesluit, óók ten opsigte van die inentingsveldtog en sodoende gewys hoe dit gedoen móét word as ons almal veilig wil hou.”

Uit ’n Christelike perspektief is Jordanië ’n volk met ’n Moslem-meerderheid, waar minder as 5% van die bevolking bely dat hulle Christene is. Desnieteenstaande is Jordanië een van die wêreld se leiers wat vlugtelingsorg betref. Die VNHKV werk sowel saam met Jordanië se regering as groepe soos die Siriese vlugtelinge-direktoraat (SRAD) om te verseker dat ontheemdes en Jordaniërs gelykmatig behandel word. Hierdie groepe se optrede toon Bybelse beginsels, soos om medelye te betoon, hulp aan armes te gee en na die “vreemdeling” om te sien. Of hulle dit nou doen met die doel om die liefde van Christus te toon al dan nie, werk die Here déúr hulle om hoop aan die vlugtelinge te bied. Die VNHKV sowel as die Siriese vlugtelinge in die Zaatari-vlugtelingkamp wat die entstof ontvang het, het Jordanië geloof vir die insluiting van vlugtelinge in hulle gesondheidsorgplan vir die pandemie. Hussein Mohammad, ’n Siriese vlugteling, het Jordanië in ’n onderhoud met ’n Franse mediabron geloof omdat hulle vlugtelinge met gelykheid en waardigheid behandel. Hy sê die geleentheid om ingeënt te word, is “’n geskenk van God”. Die wyse waarop Jordanië vlugtelinge behandel, moet as voorbeeld vir ander nasies dien – veral dié nasies wat christenmeerderhede het – om ’n Christus-gesentreerde houding na te volg met betrekking tot die “geringstes onder hulle”. Soms kom die Here se voorsienigheid uit onverwagse oorde – vir die vlugtelinge in Jordanië kom dit uit ’n sekulêre gesondheidsdiens van ’n land met ’n Moslem-meerderheid.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat ander nasies Jordanië se voorbeeld sal volg en vlugtelinge ook met deernis sal behandel;
  • vir gelowiges wat in Jordanië se vlugtelinggemeenskappe werk, terwyl hulle die Evangelie verkondig en terselfdertyd praktiese bystand lewer; en
  • dat die Kerk die geleentheid sal benut om die “geringstes onder hulle” te bedien – dié in hulle geledere en tot aan die uithoeke van die aarde.

 

 

 

Foto: Barrons / Khalil Mazraawi

https://www.barrons.com/asset/external-media/afp/AFP6938177112651871462879805389014648171641-conflict-jordan-virus-vaccines-refugee-vaccine-health-health-pandemic-virus-refugees-syria-1.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES