20 JANUARIE ’21 | BID VIR INDONESIË

20Jan21-Indonesië Afr

Liewe gebedsvriende

Binne die bestek van net meer as ’n week, is Indonesië – die vierde mees digbevolkte land ter wêreld – deur verskeie rampe getref. Sondag, 17 Januarie, het omvangryke oorstromings die jongste van ’n reeks rampe geword wat dié Suidoos-Asiese land getref het. Duisende mense is gevra om die die gebied te ontruim, maar ten minste 15 is gedurende die naweek dood in oorstromings op Borneo-eiland. Raditya Jati, woordvoerder van die nasionale rampagentskap, het gesê dat die oorstromings deur stortreën veroorsaak is, wat watervlakke tot so hoog as drie meter, laat styg het. Die oorstromings het tien distrikte en stede in die Suid-Kalimantan-provinsie op Borneo-eiland geraak. Die onlangse moesonreën en hoë getye het grondverskuiwings en wyd verspreide oorstromings in groot dele van Indonesië tot gevolg gehad.

’n Aardbewing, met ’n omvang van 6,2 op die Richterskaal, het die westelike kus van Sulawesi-eiland op Vrydag, 15 Januarie, getref. Minstens 81 sterfgevalle is bevestig en duisende is dakloos gelaat. Stortreën het die soektog na oorlewendes wat moontlik onder geboue en puin begrawe is, belemmer. Gedurende die twaalf ure wat die groot aardbewing, wat om 02:28 (plaaslike tyd) plaasgevind het, voorafgegaan het, is ses skuddings met ’n omvang van 2,9 en hoër aangeteken. Nege náskokke is in die daaropvolgende ure aangeteken.

Die week van rampe het op Saterdag, 9 Januarie, begin toe ’n Sriwijaya Air-vliegtuig oor die Javasee neergestort het en al 62 mense aan boord dood is. Die vliegtuig het enkele minute ná vertrek van Jakarta, tydens swaar reën kontak met lugverkeerbeheer verloor. ’n Span van die Amerikaanse nasionale vervoerveiligheidsraad het Saterdag, 16 Januarie, in die hoofstad van Indonesië aangekom om aan die ondersoek na die ongeluk deel te neem.

Benewens die onlangse rampe, styg die land se aantal COVID-19-gevalle boonop ook. Volgens Worldometer beloop Indonesië se totale aantal COVID-19-gevalle tans 907,929, wat 25,987 sterftes en 736,460 genesings tot en met 18 Januarie 2021, insluit. Die eerste twee weke van 2021, was Indonesië se grense vir alle buitelandse reisigers gesluit. Hospitale in Java staan ​​op die rand van ineenstorting; sommige pasiënte word in die gange in stoele behandel, in plaas van in beddens. Sommige pasiënte se families ry van die een hospitaal na die ander om toegang vir die siekes te vind. Henry Surendra, ’n epidemioloog van die Eijkman-Oxford kliniese navorsingseenheid, het gesê dat infeksies “onbeteueld” is. Die Indonesiese kabinet is gedurende Desember 2020 geskommel en president Joko Widodo het Budi Gunadi Sadikin (wat ’n graad in kernfisika het), as minister van gesondheid aangewys. Indonesië het met ’n uitgebreide, gratis COVID-19-inentingsveldtog begin om die verspreiding van die virus te keer en die ekonomie weer aan die gang te kry. Joko Widodo, Indonesië se president, het die eerste persoon in daardie land geword om die entstof te ontvang, toe hy op Woensdag, 13 Januarie, daarmee ingeënt is.

Volgens Joshua Project, bely 82,1% van Indonesië se 272 miljoen mense, dat Islam die “een ware godsdiens” is, terwyl diegene wat bely dat hulle Christene is, tans ’n geskatte 12,7% van die bevolking uitmaak. Volgens Geopende Deure, hang die mate van vervolging wat ’n mens in Indonesië in die gesig staar, af van die streek waarin jy woon. Daar is sekere “brandpunte”, soos Wes-Java of Aceh, waar ekstremistiese Islamitiese groepe sterk figureer en hulle samelewings en streekspolitiek beïnvloed. Gedurende Maart 2020 het 15 Indonesiërs ’n saak by die hooggeregshof aanhangig gemaak en aangevoer dat die regering se sluiting van duisende aanbiddingsplekke ingevolge ’n diskriminerende wet geskied het. Sedertdien het president Joko Widodo kortliks verwys na die probleme waarmee gelowiges van minderheidsgodsdienste te kampe het wanneer hulle ’n nuwe aanbiddingsplek tot stand wil bring.

Bid asseblief saam met ons vir Indonesië gedurende hierdie baie moeilike tye.

“Gebed is nie jou laaste uitweg as alles anders misluk het nie; in tye van nood moet dit jou eerste verdedigingslinie wees. (Lorraine Marie Varela)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES