SELFMOORDBOMAANVALLER EN GEWAPENDES VAL DORPIE IN KAMEROEN AAN

Boko Haram

’n Aanval, wat aan die terreurgroep Boko Haram toegeskryf word en waarin minstens 12 mense dood is, is op 8 Januarie op die Mozogo-nedersetting in die noordelike streek van Kameroen uitgevoer. Na berig word het Boko Haram-vegters die dorpie geplunder en sporadies skote afgevuur. Die inwoners het noodgedwonge na ’n park gevlug, waar ’n selfmoordbomaanvaller ’n ploftoestel in hulle midde laat afgaan het. Bronne kon nie bevestig of die jong, vroulike bomdraer ’n gewillige deelnemer was en of sy gedwing is om die aanval uit te voer nie. Hierdie is maar net die jongste van vele aanvalle wat aan Boko Haram toegeskryf word sedert die groep in 2015 in Kameroen op die voorgrond getree het. Vir langer as tien jaar veg Boko Haram reeds om ’n kalifaat in Noordoos-Nigerië tot stand te bring. Hulle slaan munt uit die voortslepende spanning langs taalgrense (Engelssprekende Kameroeners word deur die Franssprekende meerderheid onderdruk) in die naburige Kameroen om hulle invloed in die gebied uit te brei. Nigerië, Niger, Tsjad en Kameroen het ’n onderlinge koalisie tot stand gebring om die groeiende invloed van Boko Haram te beheer, maar hiermee is min vordering gemaak. Poreuse grense het die handel in wapens en die uitvoer van oorgrens-aanvalle moontlik gemaak. Die groep se ledetal en invloed het gegroei en is gelyk aan of het selfs sy destydse piek van 2014-2015, oorskry. Volgens die Verenigde Nasies (VN),  het geweld deur Boko Haram gepleeg, ongeveer 26 miljoen mense in die Tsjad-meer-gebied geaffekteer met ’n verdere 2,6 miljoen wat ontheem is.

Uit ’n Christelike perspektief word Kameroen as ’n nasie met ’n Christen meerderheid beskou; ’n geskatte 69% van die bevolking is (volgens die Joshua Project) belydende Christene is. Die meeste van dié Christene woon in die suidelike en westelike gebiede, terwyl Islam en militante Islamitiese groepe grotendeels in die noorde oorheers. Hoewel verskeie godsdiensgroepe vir jare lank vreedsame naasbestaan geniet het, het gewelddadige opstande in die noorde godsdiensspanning verhoog. Volgens die Instituut vir Veiligheidstudies word militante Islam sedert die kolonisasieperiode as ’n bedreiging vir die Kameroense samelewing beskou. Dit het tot gevolg gehad het dat Europese en post-onafhanklikheids-regerings van beleidsrigtings gebruik gemaak het om “Moslems te paai of te dwing om in die nasie-bou projek te integreer”, sodat godsdienstige harmonie gehandhaaf kan word. Sosiale en ekonomiese verskille tussen die onderskeie streke van Kameroen, tesame met die opstande in naburige lande, het egter die aantal kandidate vir groepe soos Boko Haram, laat styg.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat koalisie-personeel en -hulpbronne meer effektief aangewend sal word;
  • dat die Christene in Kameroen deur die Here gebruik sal word om hulle ongelowige naastes met Sy boodskap van hoop en vrede te bereik; en
  • dat die wêreldwye Kerk nie onaangeraak sal bly deur die noodkrete van diegene wat geraak word deur die krisis in die Tsjad-meer-gebied nie.

 

 

 

Foto: Daily Post

https://www.icirnigeria.org/wp-content/uploads/2019/12/Boko-Haram.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES