AMERIKA SE VOORNEME OM HOUTHI’S TOT TERRORISTE TE VERKLAAR BEDREIG HULP AAN JEMEN

Houthis

Die Amerikaanse regering het sy voorneme om die Iran gesteunde Houthi-groep in Jemen tot terroriste-organisasie te verklaar, aangekondig – ’n stap wat kommer in die geledere van internasionale hulp-organisasies laat ontstaan het. Die besluit tree op 19 Januarie in werking, wat ook president Trump se laaste dag in die amp is. Die Houthi-groep – ook bekend as Ansar Allah – beheer sowel die hoofstad, Sanaa, as die meeste van die land se noordelike streke, waar die grootste deel van die bevolking woon. Die Amerikaanse regering het die Houthi’s daarvan beskuldig dat “hulle ’n lewensbedreigende veldtog, wat Jemen en die Midde-Ooste gedestabiliseer het, voer.” Dit behels diefstal van geld en hulp, asook menseregteskendings teen andersdenkendes. Die klassifikasie as terreurgroep sal dit vir Amerikaners onwettig maak om met die Houthi’s sake te doen of hulle van “materiële hulp of middele” te voorsien. Verder sal dit waarskynlik ook daartoe lei dat internasionale banke hul sakebedrywighede met die Houthi’s sal staak, wat die voortslepende ekonomiese krisis verder sal verdiep en toegang tot kritieke hulpfondse sal verhinder. Daar heers groot kommer dat hierdie stap die toestande op grondvlak verder kan verswak, die VN se vredesondehandelinge omverwerp en die land se humanitêre krisis kan vererger. Sedert 2014 word Jemen deur oorlog geteister en 80% van die bevolking het behoefte aan humanitêre hulp. Verskeie internasionale hulporganisasies moet noodgedwonge met die Houthi’s saamwerk om die nodige ondersteuning aan miljoene mense te verseker. Die minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het gesê die regering het die gevolge wat dié klassifikasie op die lewering van hulp sou hê, oorweeg. Hy het verder gesê: “Ons beplan om maatreëls in te stel om die impak op sekere humanitêre aktiwiteite en invoere in Jemen, te verminder.”

Uit ’n Christelike perspektief is vervolging van gelowiges in Jemen, waar daar ’n Moslem-meerderheid heers, fel. Om Islam te versaak, is ’n oortreding, wat dit vir Christene moeilik maak om openlik te vergader en mekaar gedurende die oorlog te onderskraag. Christelike organisasies bied egter sowel fisiese as geestelike hulp aan noodlydendes. Vernon Brewer, stigter en uitvoerende hoof van World Help – ’n Christelike hulporganisasie – het gesê dat Christene meer bewus moet wees van die groter-wordende krisis in Jemen. In ’n onderhoud met Christian Post het hy gesê: “Voedsel is die mees dringende behoefte. Miljoene kinders in Jemen sterf weens hongesnood, as gevolg van ’n oorlog waarmee hulle niks te make het nie. As ons nie onmiddellik op hierdie tragedie reageer nie, wat sê dit van ons … as Christene wie se doel dit is om liefde aan ander te betoon?” Mislukte vredespogings, saam met die opkomende klassifikasie (van die Houthi-groep) as terroriste, maak dit onwaarskynlik dat die krisis in Jemen binnekort sal eindig. Die internasionale Christelike radiobediening, Trans Wêreld Radio (TWR), is een van die bedienings wat boodskappe van hoop aan die minder as 1% Christen-bevolking bied en die wêreldwye Kerk uitdaag om hulle by hulle familie in Jemen te skaar. In ’n onderhoud oor die radiobediening Hope for Jemen het die direkteur van Arab Ministries die wêreldwye kerk uitgedaag om die verantwoordelikheid om “te treur saam met dié wat treur”, te aanvaar en om Jemen voortdurend in gebed op te dra.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die verspreidingskanale vir hulp sal oop bly en effektief sal wees om diegene, wat die grootste nood beleef, te bereik;
  • dat diégene wat by vredesonderhandelinge betrokke is, ondanks al die bykomende uitdagings, sal volhard; en
  • dat Jemenitiese gelowiges kreatiewe en Gees-geleide maniere sal vind om, te midde van fel vervolging, mekaar en hulle naastes, te bemoedig.

 

 

Foto: REUTERS / KHALED ABDULLAH

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES