13 JANUARIE ’21 | BID VIR DIE VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

13Jan21-VSA-Afr

Liewe gebedsvriende

Amerika het ’n traumatiese en onstuimige week beleef met die implikasies daarvan nog besig om te ontvou. President Donald Trump staar ’n historiese tweede staat van beskuldiging in die gesig nadat die demokrate in die huis van verteenwoordigers hom op Maandag 11 Januarie formeel aangekla het van “aanhitsing tot gelweld” ná die oproer by die Kongresgebou. Die resolusie om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, het die steun van meer as 218 demokrate in die laer huis, wat na bewering genoeg is om te verseker dat dit slaag. Vir Trump om egter uit sy amp verwyder te word, moet hy deur die senaat skuldig bevind word en die senaat is in reses tot ná die inhuldiging van Biden op 20 Januarie. Leiers van die demokrate het gesê dat hulle nie met die staat van beskuldiging sal begin voordat Biden se regering tyd gehad het om genomineerdes te probeer bevestig en om belangrike wetgewing in die eerste 100 dae deur te voer nie. Na verneem word, word die staat van beskuldiging voortgesit om te verhoed dat Trump hom in die toekoms weer verkiesbaar kan stel. Daar is dreigemente van verdere geweld as pogings aangewend word om Trump te verwyder voordat sy termyn verstryk.

Trump het Woensdag, 6 Januarie, duisende betogers toegespreek en die aantyging dat die verkiesing by hom gesteel is, herhaal. Sy ondersteuners het daarna die Kongresgebou in Washington DC bestorm – dít op dieselfde dag as wat Joe Biden se verkiesingsoorwinning deur die Amerikaaanse kongres bevestig sou word. Die Kongresgebou huisves die huis van verteenwoordigers en die senaat, wat gesamentlik die kongres vorm. Skermutselings het buite die Kongresgebou uitgebreek toe die skare met dreunsang begin en teen versperrings gebeur het en die polisie met traangas en pepersproei daarop gereageer het. Polisiebeamptes het egter gesukkel om die situasie te beheer toe betogers die gebou van verskeie kante af bestorm en binnegedring het. Senators moes noodgedwonge die bevestiging van Biden se oorwinning laat vaar; die gebou is afgegrendel totdat Trump ’n beroep op die betogers gedoen het om te kalmeer en die gebou in vrede te verlaat. Vyf mense is dood en 64 is in hegtenis geneem.

Die kongres het Donderdag, 7 Januarie, bevestig dat die verkose president, Joe Biden, Trump se opvolger sal wees en op 20 Januarie ingehuldig sal word. Trump het belowe dat die oordrag van mag glad sal verloop en gevra vir “genesing en versoening”. In die nadraai van dié gebeure het die demokrate ’n nuwe staat van beskuldiging teen Trump onderteken en twee republikeinse senators het gesê hy moet die amp onmiddellik verlaat. Trump het Vrydag, 8 Januarie, gesê hy sal nie die aangewese president, Joe Biden, se inhuldiging bywoon nie. Dit blyk dat vise-president Mike Pence dit wel sal bywoon.

As grootste Christelike nasie ter wêreld, word Amerika allerweë deur die wêreld as die gesig van die chrsitendom beskou. Na raming is 77,5% van die bevolking Christene – wat ook al in Amerika gebeur, het dus ingrypende gevolge vir die Kerk se getuienis wêreldwyd, onafgesien of die dade deur Christene gepleeg is al dan nie. Daarom moet die leierskapoorgang in Amerika vreedsaam plaasvind, want Christene se boodskap is een van liefde en vrede. Die Kerk in Amerika moet gedurende hierdie tyd demonstreer dat hulle vertroue nie op menslike leiers berus nie, maar op God, wat steeds ten volle in beheer is, ongeag wie die president is. 1 Petrus 2:13-17 sê: “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ’n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Bid asseblief saam met ons dat die leiers in Amerika gedurende hierdie tyd vrede sal proklameer en dat die Here die eenheid van die Kerk sal beskerm, sodat die vyand nie politieke verskille sal gebruik om verdeeldheid te saai nie.

“Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.” (2 Korintiërs 10:3-4)

“Politiek sal ons nooit kan verenig nie – slegs Jesus kan.” (Anoniem)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES