AL-SHABAAB LOODS MEER AANVALLE IN SOMALIË IN AANLOOP TOT 2021-VERKIESING

Somalia

Die fundamentalistiese Islamitiese groep, Al-Shabaab,maak aanspraak op verantwoordelikheid vir ’n aanval waarin minstens agt mense op Vrydag, 27 November, in die Somaliese hoofstad, Mogadishu, dood is. Die groep het ’n gewilde roomyswinkel, wat deur toeriste en regerings amptenare besoek word, gebombardeer en beweer dat die aanval “suksesvol en bedrewe uitgevoer is”. Dié bomaanval is op Saterdag, 28 November, deur nog een, wat die hoofbestuurder van ‘n hawe in Mogadishu geteiken het, opgevolg. Na bewering is twee mense in die tweede aanval dood en ’n onbekende aantal beseer. Terwyl politieke en sosiale onrus in Somalië voortduur, het Al-Shabaab die afgelope paar weke die frekwensie van aanvalle op Somaliese veiligheidspersoneel en burgerlikes verhoog. Die groep het gedreig om meer aanvalle uit te voer terwyl die land voorbereidings tref vir die verkiesing in 2021. Volgens Human Rights Watch se wêreldverslag het voortslepende gewapende konflik, onsekerheid en herhalende humanitêre krisisse, tot ernstige onrus in Somalië gelei. Ongeveer 2,6 mijoen van ’n totale bevolking van 11,7 miljoen mense, is op nasionale vlak ontheem. Die Verenigde Nasies se Hulpsending in Somalië (UNSOM) het bereken dat, van Januarie tot middel-November 2020, ongevalle onder burgerlike slagoffers ongeveer 1,100 beloop; 67% hiervan het voortgespruit uit “blindelingse én doelgerigte aanvalle” wat oorwegend deur Al-Shabaab uitgevoer.

Uit ‘n Christelike perspektief: In Somalië word dit as verraad teen die familie en die stam beskou wanneer ’n Moslem ’n volgeling van Christus word. Dusdanige bekeerlinge word dikwels deur gesinslede en stamleiers geïntimideer, aangerand of selfs doodgemaak. Hulle loop ook ’n groter risiko om deur terreurgroepe soos Al-Shabaab geteiken te word. Om in Somalië ’n Christen te word, is op alle lewensterreine baie gevaarlik – hewige vervolging is ’n groot waarskynlikheid. Die voortslepende onrus en geweld het egter miljoene Somaliërs genoop om te vlug; baie van hulle wyk uit na “christelike” lande, soos Amerika, Kanada, Suid-Afrika en verskeie Europese lande. Ongeveer twee derdes van alle Somaliërs wat buite Somalië woon, woon egter in die buurlande Kenia, Ethiopië, Djiboeti en Jemen. Verskeie kerke in Noord-Amerika het bedienings wat toegespits is op Somaliërs wat in hul gemeenskappe woon. State soos Ohio, Minnesota en Kalifornië het groot bevolkings Somaliese vlugtelinge – kerke in hierdie state is daartoe verbind om diegene wat die militante Islam ontvlug het, te help om die Evangelie van Jesus te verneem. Somaliese vlugtelinge wat met hierdie bedienings in aanraking kom, kan die Evangelie dan in ‘n nie-vyandige omgewing verneem en leer ken. Só word die Somaliese diaspora aan Jesus blootgestel en diegene wat verkies om Christus te volg, kan die Goeie Nuus moontlik terugneem na hulle lydende volk.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die komende verkiesing nuwe politieke en maatskaplike stabiliteit sal bewerkstellig;
  • dat die Somaliese diaspora die Evangelie sal leer ken en verstaan; en
  • dat Christene in Somalië, te midde van politieke onstabiliteit, sosiale onrus en ernstige vervolging, standvastig sal bly.

 

 

Foto: REUTERS /Feisal Omar

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES