ONVERSETLIKE PAKISTANSE GODSDIENSTIGE LEIER KHADIM RIZVI STERF

Pakistan

Tienduisende mans het op 22 November in Lahore byeengekom vir die begrafnis van die onversetlike Pakistanse godsdienstige leier, Khadim Hussain Rizvi. Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie. Die 54-jarige Rizvi is Donderdag, 19 November, oorlede nadat hy ’n hoë koors en asemhalingsprobleme gehad het. Hy het nie ’n COVID-19-toets ondergaan nie en geen lykskouing is op sy liggaam uitgevoer nie. Rizvi het ’n prominente figuur geword tydens sy veldtog m.b.t. die kwessie oor “godslastering” teen Islam. Hy was die stigter van die ver-regse Tehreek-e-Labba-party (TLP), wat die onlangse betogings teen Frankryk aangevoer het. Dié betogings was gemik teen die publikasie van karikature van die profeet Muhammed. Rizvi het ook ’n prominente rol gespeel in die aandrang op die teregstelling van Asia Bibi, ’n Christenvrou wat van godslastering beskuldig is. Hy het nasionale bekendheid verwerf toe een van sy volgelinge, Mumtaz Qadri, die goewerneur van Punjab, Salman Taseer, in 2011 dood geskiet het. Dié moord is uitgevoer omdat Taseer hom beywer het vir die hervorming van die streng godslasteringswette. Rizvi het ook ’n veldtog gelei vir die vrylating van Qadri, wat Taseer se amptelike lyfwag was toe laasgenoemde vermoor is. In 2018 het die TLP vir die eerste keer aan verkiesings deelgeneem en kritici geskok toe hulle drie provinsiale vergadering-setels verower het; landswyd het die party 2,2 miljoen stemme gekry. Waarnemers is van mening dat Rizvi se party waarskynlik tot faksies sal verbrokkel nou dat hy dood is. Samesprekings om sy opvolger aan te wys, het reeds ’n aanvang geneem.

Uit ’n Christelike perspektief moet ons erken dat mense in die versoeking kan kom om bly te wees oor die dood van ’n persoon wat só gekant was teen Christus en sy volgelinge; om dankbaar te wees oor die verligting van die onverbiddelike vervolging deur iemand wat so gedrewe was om die “suiwerheid” van Islam na te streef. Esegiël 18:23 leer ons egter dat dit nie God se reaksie is nie: “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” Paulus herinner ons ook in 1 Timoteus 2:4 daaraan dat God “… wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” Rizvi se dood moet ons daaraan herinner dat baie mense dieselfde oortuigings as Rizvi handhaaf – mense wat van Christus moet weet, wat die evangelie moet hoor. Volgelinge van Christus moet ’n diep sielskwelling hê oor diegene wat sonder die reddende kennis van Christus sterf.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Here sy Koninkryk in Pakistan deur Rizvi se dood sal uitbrei;
  • dat gelowiges in Pakistan die geleenthede wat die Here op hulle pad bring ná Rizvi se dood, sal aangryp; en
  • dat gelowiges hulle harte sal ontferm oor dié wat hulle vervolg.

 

 

 

Foto: REUTERS / Caren Firouz

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES