25 NOVEMBER ’20 | BID VIR BURKINA FASO

25Nov20-Burkina Faso_Afr

Liewe gebedsvriende

Presidensiële én wetgewende verkiesings het op Sondag, 22 November, in Burkina Faso plaasgevind. In sy strewe om vir ’n verdere vyf jaar aan bewind te wees, het president Roch Kabore teen twaalf ander kandidate te staan gekom. Die opposisie hoop om die stemme in hierdie eerste rondte sodanig te verdeel, dat Kabore nie die nodige 51% steun ontvang vir ’n volkome oorwinning in hierdie eerste rondte stemming nie. Indien hulle hierin slaag, beplan die opposisie om, onder aanvoering van die sterkste kandidaat, ’n koalisie vir die tweede rondte stemmery te vorm.

In die hoofstad, Ouagadougo, het die stemmery vlot verloop en daar was ook geen berigte van uitgebreide geweld in die res van die land tydens die stemmery nie. Sommige stemlokale in die oostelike gebiede moes egter weens dreigemente van geweld, gesluit word. Geweld wat met Al-Kaïda en IS (Islamitiese Staat) verbind word, het dele van die land ontoeganklik gemaak, wat 166,000 nuwe stemgegtigdes verhoed het om as kiesers te registreer. Amptelike gegewens wat vrygestel is, dui aan dat minstens 400,000 kiesers (sowat 7% van die stemgeregtigdes) as gevolg van die sluiting van stemlokale (weens die gewelds-dreigemente) nie kon stem nie. Volgens Codel (’n plaaslike organisasie wat op verkiesings toegespits is) is krisis-lokale ingerig om die verkiesing te monitor, onreëlmatighede, intimidasie van kiesers en geweld te ondersoek.

Hierdie verkiesings het teen die agtergrond van toenemende konflik en een van die wêreld se snel-groeiendste humanitêre krisisse, plaasgevind. Groot dele van hierdie goudproduserende, Wes-Afrika land, het sedert Islamitiese militante (wat in Mali gestasioneer is), vier jaar gelede hulle reikwydte tot oor die grens uitgebrei het, onregeerbaar geword. Burkina Faso het gedurende die huidige jaar ’n ongekende toename in aanvalle aangemeld – deur sowel militante verbonde aan Al-Kaïda en Islamitiese Staat-groep, as burgermaglede. Verlede jaar het die konflik tot meer as 2,000 sterftes gelei, terwyl meer as ’n miljoen mense ontheem is. Die menseslagting wat deur pro-regeringsmagte of die weermag op Fulani-burgers uitgevoer is, is deur humanitêre organisasies veroordeel. Frankryk en Amerika het troepe ontplooi om die geweld te probeer bekamp en die IS- en Al-Kaïda-insurgensie hok te slaan.

Burkina Faso is die tuiste van nagenoeg 21 miljoen mense, van wie 20,5% belydende Christene is; hierteenoor is 55,7% belydende Moslems. Die aanvalle het daartoe gelei dat Burkina Faso na nommer 28 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van die mees vervolgde lande ter wêreld, beweeg het. Die geweld en toename in aanvalle het ’n milieu van vrees in die land en die Kerk veroorsaak. As die liggaam van Christus, moet ons ons broers en susters bystaan deur die Here te vertrou vir ’n deurbraak in hierdie land.

Bid asseblief saam met ons vir Burkina Faso.

“Deur die Naam van Christus af te pleit, pleit jy dít af wat die poorte van die hel skud en dít wat die hemelse leërskare gehoorsaam; God sélf voel die krag van daardie goddellike pleidooi.” (Charles Spurgeon)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES