LANDE IN ASIË EN STILLE OSEAAN-GEBIED SLUIT WÊRELD SE GROOTSTE HANDELSVERDRAG

Asia-Pacific

Vyftien land in  Asië en die Stille Oseaan-gebied het op 15 November die wêreld se grootste verdrag oor vryhandel, naamlik die Regional Comprehensive Economic Partnership (RCEP), onderteken. Die ooreenkoms sluit die 10 lande wat aan die Association of Southeast Asian Nations (ASEAN) behoort, sowel as China, Japan, Suid-Korea, Australië en Nieu-Seeland, in. Die ooreenkoms sluit egter Amerika uit, aangesien spanning tussen Amerika en China tydens Donald Trump se bewind, opgelaai het. Die RCEP-ooreenkoms sal China se afhanklikheid van oorsese markte (by name Amerika), verminder en terselfdertyd tariewe ten opsigte van verskeie, tot nog toe ongespesifiseerde goedere, vir baie lande, verminder. Die lidlande se aandeel aan wêreldwye handel kan tot soveel as 30% beloop en meer as twee miljard verbruikers betrek. Hierdie ooreenkoms is ook die eerste waarin China, Japan en Suid-Korea gesamentlik by ’n vryhandelsverdrag betrokke is. Tydens die ondertekeningseremonie in Hanoi, het Viëtnam se eerste minister, Xuan Phuc, gesê dat die verdrag “’n beduidende bydrae tot die post-Covid ekonomie” sal lewer. RCEP sal amptelik in werking tree nadat die deelnemende lande die ooreenkomste in hulle onderskeie lande intern bekragtig het. Die goedkeuring van die verdrag vind enkele dae voor Australië en Japan ’n verdedigings-ooreenkoms aangaan, plaas. Dié ooreenkoms word aangegaan om China se verhoogde militêre invloed in die gebied te bekamp. Etlike lande in Asië en die Stille Oseaan-streek het reeds verdedigingsmoontlikhede teen China se waarneembare vyandigheid en invloed op die Suid-Chinese see, ondersoek.

Uit ’n Christelike perspektief, is China se “Syroete” lank reeds ’n sentrum vir handel en nywerheid; die nuwe handelsverdrag sal na verwagting die aantal mense en produkte wat van die roete gebruik maak, laat toeneem. Chinese sendelinge gebruik ook hierdie roete om die evangelie dwarsdeur China en aangrensende lande te versprei. Die One Belt One Road (OBOR)  infrastruktuur-ontwikkelings-inisiatief wat in 2013 ’n aanvang geneem het, vervul ’n strategiese rol om die evangelie al langs hierdie antieke roete te verkondig – dít terwyl China en ander lande stewig in die ontwikkeling van infrastruktuur van die omliggende streke belê. Met dié dat handel in die streke langs hierdie roete toeneem, kry die Kerk en die Christen-sakegemeenskap nuwe geleenthede vir die verkondiging van die evangelie. Die toename in die aantal sendelinge wat die afgelope paar jaar vanuit China en Suid-Korea gestuur is, sowel as voormelde nuwe geleenthede wat RCEP meebring, kan goedskiks tot die herlewing van die Christendom in Asië en die Stille Oseaan-streek lei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat RCEP ’n konstruktiewe kanaal sal wees om ekonomiese hulp aan lande, wat gebuk gaan onder negatiewe gevolge van COVID-19, te bied;
  • Dat die Kerk in lande in Asië en die Stille Oseaan-streek sal voortgaan om (meer) sendelinge te stuur, met die klem op “besigheid as sending”; en
  • Dat gelowiges die geleenthede wat RCEP bied, sal aangryp om die Koninkryk van God, veral in “onbereikte” gebiede, uit te brei.

 

 

Foto:  REUTERS/Kham

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES