KONFLIK IN ETHIOPIË BEDREIG STABILITEIT IN STREEK

Ethiopia 2

Terwyl konflik in die noordelike deel van Ethiopië steeds toeneem, het Debretsion Gebremichael, Tigray se president, bevestig dat sy weermag die Eritrese stad, Asmara, gebombardeer het. Hoewel hy nie gesê het hoeveel missiele afgevuur is nie, het hy tog bevestig dat sy troepe sowel Eritrese as Ethiopiese magte aan “verskeie fronte” langs Ethiopië se grens beveg. Abiy Ahmed, Ethiopië se eerste minister, het in reaksie op ’n aanval op ’n militêre basis in die Tigray-streek, waar politieke opstand op grond van uitgestelde verkiesings gestyg het, militêre optrede teen dié streek geloods. Ethiopiese nuusagentskappe berig dat Gebremichel gesê het: “So lank as wat hier vegtende troepe is, sal ons op enige geregverdigde militêre teiken losbrand” – hierdie uitspraak veroorsaak dat ’n moontlike aanval op Addis Abeba (Ethiopië se hoofstad), glad nie vergesog is nie. Ahmed se optrede in Tigray is die gevolg van verswakte verhoudings tussen die Tigray People’s Liberation Front – wie se politieke invloed het sedert die begin van Abiy se bewind, aansienlik gekrimp het – en die federale regering. Die onlangse verspreiding van die konflik na die aangrensende Eritrea, het wêreldwye kommer oor die verslegtende omstandighede laat ontstaan. Dít nadat daar ’n sweempie hoop was vir die Horing van Afrika na aanleiding van die vredesooreenkoms wat in 2018 tussen Ethiopië en Eritrea gesluit is, sowel as onlangse, positiewe verwikkelings wat in naburige Sudan en Suid-Sudan plaasgevind het. Volgens Al Jazeera het die huidige konflik reeds tot die dood van honderde mense gelei en nagenoeg 20,000 mense genoop om na hulle buurland, Sudan, te vlug. Vegtendes in Tigray word deur beide Ethiopië se Menseregte-kommissie en Amnestie Internasionaal ondersoek ten opsigte van menseregte-skendings; die beskuldigings kon egter nog nie onafhanklik bevestig word nie. ’n Verbod op telekommunikasie het dit tot dusver moeilik gemaak om betroubare inligting oor die omstandighede in Tigray te bekom.

Uit ’n Christelike perspektief, het die wyse waarop Ethiopië op hierdie konflik reageer, die potensiaal om stabiliteit in die streek te beïnvloed. Dit is ook van geestelike belang, omdat dit op die strategiese skeidslyn wat die “Islamitiese noorde” en “Christelike suide” van mekaar onderskei, geleë is. Abiy het die Nobel-prys vir Vrede ontvang vir sy pogings om die konflik tussen Ethiopië en Eritrea tot ’n einde te bring; die huidige geweld bedreig egter daardie vrede. Die onrus het reeds bykans 20,000 mense genoop om Ethiopië te verlaat, wat verdere druk op ’n sukkelende Sudan plaas. Sudan huisves tans 1,4 miljoen vlugtelinge, waarvan die getalle selfs verder kan toeneem, indien ’n oplossing vir die konflik nie gevind word nie. Boonop word Ethiopië se politieke ellendes vererger deur ’n langdurige sprinkaanplaag, COVID-19 verwante ekonomiese probleme en internasionale geskille oor die Grand Ethiopian Renaissance Dam. Kerke in Ethiopië het reeds gebeds- en vasdae aangekondig vir diégene wat ontheem is en ook dat die strydende partye ’n vreedsame oplossing sal vind.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die leiers van alle betrokke regerings na blywende vrede vir sowel Ethiopië as in die streek, sal streef;
  • dat die geweld sal eindig en die ontheemdes na hulle huise kan terugkeer; en
  • dat die Ethiopiese Kerk sal aanhou om na vrede te streef en ’n instrument in die Here se hand sal wees om versoening in die volk te bewerk, sodat dit ’n getuienis van die Here se liefde en mag kan wees – vir beide die streek en elders.

 

 

 

Foto: REUTERS/El Tayeb Siddig

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES