TANZANIESE REGERING SLAAN TOE OP OPPOSISIE NÁ BETWISDE VERKIESING

Tanzania

Verskeie opposisieleiers is in Tanzanië in hegtenis geneem nadat die huidige president, John Magufuli op 28 Oktober vir ’n verdere vyf jaar as president verkies is. Die betroubaarheid van die verkiesingsuitslae word betwyfel, omdat die 84% stemme wat Magafuli gekry het, volgens kenners bedenklik hoog is. Die hoof-opposisieleier, Tundu Lissu, het gesê dat hy die verkiesingsuitslae nie aanvaar nie en dat ’n herver-kiesing moet plaasvind. Die gearresteerdes sluit onder andere Freeman Mbowe, voorsitter van die Chadema-party, Godbless Lema, ’n voormalige parlementslid en Isaya Mwita, ’n voormalige burgemeester van Dar es Salaam, in. Hulle staan ​​tereg op aanklagte van terreur, omdat hulle na bewering protesoptredes beplan het en gedreig het om skade aan regeringsgeboue aan te rig. Die Tanzaniese verkiesingskommissie het ontken dat daar enige verkiesingsbedrog plaasgevind het. Die opposisie beweer egter dat daar met stemtoerusting gepeuter is, verkiesingswaarnemers toegang tot stemlokale geweier is en dat uitgebreide opskorting van internetdienste die verspreiding van inligting aan bande gelê het. Min onafhanklike waarnemers het toegang tot die verkiesing gekry. Waarnemers het hulle kommer uitgespreek oor Tanzanië “skerp wegbeweeg van demokratiese ideale” sedert Magufuli aan bewind is. Die semi-outonome eiland Zanzibar het ook verkiesings gehou, wat daartoe gelei het dat die hoof-opposisieleier, Seif Sharif, in hegtenis geneem is omdat hy beweer het dat die verkiesing, waarin sy teëstander, Hussein Mwinyi, 76% van die stemme gekry het, gemanipuleer is om hom te benadeel.

Uit ’n Christelike perspektief is Magufuli ’n belydende Christen en die meeste kerke in Tanzanië sê hulle steun openbaar aan sy regering toe. Die Kerk kan hom egter nie openlik teen die regering se optrede uitspreek nie, as gevolg van moontlike reperkussies soos ondervraging en ondersoeke. Sowel die geleenthede as die bedreigings wat Magufuli se regering al op die weg van die kerk in Tanzanië gelê het, is deur ’n plaaslike kontakpersoon in Tanzanië, blootgelê. Onder leiding van Magufuli was daar meer geleenthede vir kerke en bedienings om amptelik geregistreer te word, sodat die vrye verkondiging van die evangelie makliker kon plaasvind. Vergeleke met vorige regerings, het vervolging ook afgeneem. Predikante en sendelinge is egter versigtig om politieke kwessies te bespreek weens die gevaar van vergelding indien hulle iets sou sê wat nie met die huidige regerende party se beleid strook nie. In Zanzibar het ’n kontakpersoon gesê dat hy baie ingenome met die regerende party se oorwinning is, aangesien hy van mening is dat dit ’n verhoring van hulle gebede was – gelowiges kan, onder die regering van die huidige party, Koninkryksaktiwiteite najaag; onder leiding van die opposisie in Zanzibar sou dit nie moontlik wees nie. In die nadraai van ’n chaotiese verkiesing, hou die Kerk in Tanzanië aan om vir die politieke bestel te bid, aangesien hulle weet dat daar geen gesag [is] wat nie van God kom nie (Romeine 13:1). Ongeag die verloop van Tanzanië se politieke bestel, hou die Kerk aan bid dat die Here die regering, wie dit ook al sou wees, sal gebruik om sy Koninkryk uit te brei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat Magufuli en sy regering hulle land op ’n opregte en regverdige wyse sal lei en dat hulle na die bekommernisse van die opposisie sal omsien sonder om van onderdrukkende taktiek gebruik te maak;
  • dat die Here die Kerk in Tanzanië sal rig en lei om te fokus op dit wat Hy begeer vir hierdie nuwe seisoen; en
  • dat gelowiges sal voortgaan om hulle versekering in Christus te vind en dat hulle vurig vir diegene in die regering sal voorbidding doen.

 

 

 

Foto: DW / S. Khamis – https://static.dw.com/image/46524849_303.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES