RUSLAND SAL ARMENIË “BYSTAAN” INDIEN KONFLIK MET AZERBEIDJAN VERDER AS NAGORNO-KARABACH UITBREI

Armenia

Met gevegte wat reeds meer as vyf weke duur, is Rusland bereid om “alle nodige bystand” aan sy verdragsvennoot, Armenië, te verleen indien geweld tot binne Armeense grondgebied uitbrei. Indien Rusland tot die konflik toetree, kan dit die huidige gevegte uitrek. Op 31 Oktober, slegs ’n dag ná die vierde rondte samesprekings oor ’n skietstilstand wat in Genève gehou is, het Armenië en Azerbeidjan mekaar van voortgaande bombardering van burgerlike gebiede beskuldig. In die vergaderings van 30 Oktober het albei partye ingestem om nie burgerlikes te teiken nie en om die name van soldate wat aangehou word, te verskaf sodat voorbereidings vir ’n moontlik uitruilling van gevangenes getref kan word. Die onlangse toename in geweld het daartoe gelei dat die Armeense eerste minister, Nikol Pashinyan, president Vladimir Putin van Rusland om veiligheidshulp genader het. Die motivering wat vir dié versoek aangevoer is, was dat Azerbeidjan steeds hulp van Turkye ontvang. Sedert die gevegte in Nagorno-Karabach op 27 September uitgebreek het, is ongeveer 1,200 mense dood. Wêreld-moondhede probeer ’n volskaalse oorlog, waarin Azerbeidjan deur Turkye en Armenië deur Rusland ondersteun word, vermy. Daar heers sedert die Eerste Wêreldoorlog spanning tussen Armenië en Turkye, vanweë ’n volksmoord deur die Turkse Ottomaanse ryk wat die lewens van 1,5 miljoen etniese Armeniërs geëis het; Turkye ontken dié volksmoord.

Uit ’n Christelike perspektief word die diepgewortelde vyandigheid tussen Armenië en Turkye (wat uit die vroeë 1900’s spruit), deur Turkye se steun aan Azerbeidjan in die huidige Nagorno-Karabach-konflik, vererger. Daar is egter Armeense Christene wat die groter Armeense Kerk probeer verenig om die oortredings uit die verlede te vergewe en met ’n bediening van versoening voort te gaan. ’n Kontakpersoon van INcontext verduidelik dat die Armeense Kerk Turkye moet vergewe vir die gruweldade wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gepleeg is, sodat daar voortgegaan kan word met die vredesproses in Nagorno-Karabach. Vergifnis is een van die mees bo-natuurlike uitdrukkings van die Christelike geloof – dit bevry sowel die verwonde as die oortreder. Indien die Armeense Kerk ware vergifnis teenoor Turkye kan uitspreek, sal dit dien as getuienis ten opsigte van die krag van die evangelie teenoor die Turke; dit sal ook die Armeense Kerk in staat stel om, sonder die las van vorige oortredings, die sendinggeleenthede in Turkye en Azerbeidjan te benut.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Here in diegene wat by die onderhandelinge betrokke is se harte sal werk, sodat vordering gemaak kan word;
  • vir ’n geestelike deurbraak in die gebied; en
  • dat Armeense gelowiges deur die krag van sy Gees die moed sal kry om waarlik te vergewe en ambassadeurs vir vrede en versoening sal wees.

 

 

 

Foto: REUTERS / Gleb Garanich

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES