IRAK EN IRAN KOM IN HOËVLAK SAMESPREKINGS OOREEN OM BANDE TE VERSTERK

Iraq

Irak en Iran het ooreengekom om na beter bilaterale betrekkinge te streef. Dít volg op samesprekings tussen die Irakkese minister van buitelandse sake, Fuad Hussein, met verskeie Irannese amptenare, óók president Hassan Rouhani, om veiigheid, handel en Amerika se rol in die streek, te bespreek. Die beraad was die eerste ontmoeting tussen die twee lande sedert Julie. Dié Julie-vergadering tussen Iran se opperleier, Ayatollah Ali Khamenei en Irak se eerste minister, Mustafa al-Kadhimi, is voorafgegaan deur ’n ses maande lange politieke dooiepunt. Sowel Hussein as Rouhani was dit eens dat dit in die beste belang van altwee lande is om bilaterale bande te ontwikkel vir die versterking van betrekkinge, onafhanklik van Amerika se invloed. Albei leiers het na Amerika se militêre teenwoordigheid in Irak as ’n “destabiliserende faktor” verwys; hulle het ook die normalisering van betrekkinge wat Amerika tussen die VAE, Israel en Bahrein bemiddel het, as “erge verraad” teen die Palestyne bestempel. Rouhani het sy steun aan ’n Irakkese parlementêre stemming dat Amerikaanse troepe uit die land moet onttrek, toegesê. Samesprekings het ook gefokus op Shatt al-Arab, die rivier wat as grens tussen Irak en Iran dien. Dié rivier, wat in die Persiese Golf uitmond, is ’n belangrike handelsroete. Die lande was dit eens dat die versterking van ekonomiese bande deur die benutting van die rivier as handelsroete, handelsbetrekkinge sal laat uitbrei. Al-Kadhimi het ’n spesiale Irakkese komitee, wat verdere samesprekings met Teheran sal voer om betrekkinge te verbeter, goedgekeur.

Uit ’n Christelike perspektief was daar volgens studies deur GAMAAN, ’n Nederlandse navorsingsgroep, die afgelope tien jaar beduidende groei in die Irannese Kerk. Hoewel die persentasie van die Irannese bevolking wat hulle as Christene identifiseer, klein is (ietwat minder as 2% na The Joshua Project se raming), is hulle aktief, selfs tot in naburige lande. Meer stabiele betrekkinge tussen Iran en Irak kan dus tot groter geleenthede vir die Irannese Kerk lei om die evangelie met hulle Irakkese bure te deel, waar die getal Christene stadig maar seker  afgeneem het as gevolg van oorlog en terrorisme. In 2019 het eerwaarde Bashar Warda, aartsbiskop van Erbil (die hoofstad van die Koerdistan-streek in Irak), by Britse godsdiensleiers gepleit om meer te doen om die krimpende kerk in Irak te help. “Die Christendom in Irak, een van die oudste kerke in die wêreld (as dit nie die oudste is nie), is gevaarlik ná aan uitsterwing” het eerwaarde Warda gesê. Die Christendom het jare se vervolging in die Midde-Ooste oorleef, ten minste gedeeltelik op grond van gelowiges se bereidwilligheid om na ander uit te reik en die evangelie met hulle te deel. Sou Iran en Irak sterker politieke, ekonomiese en handelsbande smee, sal die Irannese Kerk ’n gulde geleentheid hê om geestelike bande ook te versterk.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Here die samesprekings tussen die leiers van Iran en Irak self sal rig sodat bilaterale betrekkinge op die opheffing van hul onderskeie bevolkings sal fokus, eerder as op militêre uitgawes;
  • dat die Irannese Kerk die geleenthede wat ontstaan, sal benut om die evangelie met hulle Irakkese bure te deel; en
  • dat Irakkese Christene versterk en bemoedig sal word.

 

 

 

Foto: Al Jazeera

https://www.aljazeera.com/wp-content/uploads/2020/09/AP_20270611668957.jpg?resize=770%2C513

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES