30 SEPTEMBER ’20 | BID VIR AZERBEIDJAN & ARMENIË

30Sep20-Armenië & Azerbeidjan_Afr

Liewe gebedsvriende

Die voortslepende spanning tussen Azerbeidjan en Armenië het Sondag, 27 September, gelei tot openlike konflik in die betwiste Nagorno-Karabach-streek. Dié hewige botsings het vrese laat ontstaan ​​dat die geskil weer in ’n oorlog sal ontaard. Armenië het krygswet afgekondig en sy weermag aangesê om te mobiliseer; Azerbeidjan het dieselfde gedoen. Die partye beskuldig mekaar nou vir wat die ergste toename in spannig sedert 2016 is. Ten minste 24 sterftes is gedurende die jongste skermutselings, waartydens altwee kante aanvalle geloods het, aangemeld.

Die bergagtige, dig beboste streek word sedert 1918 betwis, toe Armenië en Azerbeidjan onafhanklikheid verkry het van die Russiese ryk. Ingevolge internasionale reg word Nagorno-Karabach as deel van Azerbeidjan erken. Die meeste van die bevolking van etniese Armene verwerp egter die Azerbeidjaanse regering; hulle bestuur reeds sedert die vroeë 1990’s hulle eie sake, toe Azerbeidjan se magte gedurende ’n oorlog uit die streek verdryf is.

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het gesê dat hy altwee lande gekontak het om hulle “dringend te versoek om vyandelikhede onmiddellik te staak”. Iran, Rusland, die EU, Frankryk en Duitsland het vir ’n onmiddellike skietstilstand gevra en dat ’n vreedsame oplossing deur onderhandelinge gevind moet word. Turkye het Armenië die skuld vir die uitbarsting gegee en aan Azerbeidjan sy “volle steun” belowe. Die Pakistanse departement van buitelandse sake het gesê dat hy “uiters bekommerd” is oor die verslegtende veiligheidsituasie en ook gesê dat hy Azerbeidjan steun. Pous Franciskus het gesê dat hy vir vrede in die Kaukasus-streek bid.

Armenië het ’n bevolking van ongeveer twee miljoen mense, waarvan 92,5% belydende Christene is. Azerbeidjan se bevolking, aan die ander kant, bestaan uit ongeveer 10 miljoen mense, van wie 84,4% belydende Moslems is. Die Armeense Apostoliese Kerk, wat een van die oudste Christelike kerke is, is in die eerste eeu na Christus gestig en het na verneem word op grond van die apostels Bartolomeus en Taddeus se sendingwerk tot stand gekom; in 301 na Christus word dit die eerste plek waar die christelike leer staatsgodsdiens geword het. Blykbaar het die christendom gedurende dieselfde tydperk na Azerbeidjan versprei, óók as gevolg van die twee apostels se arbeid. Die eerste kerk in Azerbeidjan, is na berig word in die dorpie Kish opgerig. Ondanks die feit dat albei lande diep Christelike wortels het, het hulle uiteenlopende godsdienstige weë gevolg.

Bid asseblief saam met ons vir Azerbeidjan en Armenië in hierdie belangrike en brose tyd.

“Ek bid vir vrede in die Kaukasus en ek vra die strydende partye om gebare van welwillendheid en broederskap te betoon wat kan lei tot die oplossing van probleme – deur dialoog en onderhandeling, nie deur geweld en wapens nie…” (Pous Franciskus)

 

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES