LIBANON-KRISIS VERDIEP TERWYL LEIERS FAAL OM REGERING SAAM TE STEL

Lebanon

Libanese leiers het nie daarin geslaag om ’n kabinet te vorm nie – die Frans-gegewe sperdatum vir die afhandeling van dié proses, het middel September verstryk. Die huidige president, Michel Aoun, beskou dit as ’n bron van kommer indien daar nie binnekort ’n regering saamgestel word nie. Hy het voorgestel dat sektariese kwotas in die belangrikste kabinetsministeries nietig verklaar word – dit is ’n nalatenskap van Libanon se unieke magsdelingstelsel wat volgens geloofslyne toegewys word. Dié voorstel het egter nie inslag gevind nie. Die vorige kabinet is ná die afgryslike ontploffing op 4 Augustus in die hoofstad, Beiroet, ontbind. Dié ontploffing, waarin minstens 191 mense dood is, was vir die Libanese bevolking die laaste strooi – vir ’n groot deel van 2019 het hulle juis betoog vir politieke hervorming. Mustapha Adib, wat as nuwe eerste minister gekies is, is die taak opgelê om ’n nuwe regering saam te stel. Hy het beklemtoon: “Libanon kan nie bekostig om tyd te mors in ’n tyd waarin hy ongekende krisisse trotseer nie”. Hy het verder sy kommer uitgespreek oor “groot tekorte” wat Libanon in die gesig staar indien daar nie binnekort oplossings gevind word nie. Onderhandelinge word deur die land se twee dominante Sjiïtiese partye (Hezbollah, wat deur Iran gesteun word, asook die Amal-beweging), vertraag. Hulle wil Sjiïtiese ministers in die kabinet (spesifiek in die ministerie van finansies) hê. Die Franse het probeer bemiddel tussen dié partye, deur onder andere lewensnoodsaaklike hulp te belowe indien die regering inwillig om aandag te gee aan lank-uitstaande kwessies, soos die gehawende elektrisiteitstelsel en ’n verslegtende verhouding met die Wêreldbank.

Uit ’n Christelike perspektief was die Kerk in Libanon die afgelope paar maande ’n belangrike bron van hoop en fisiese hulp, terwyl Libanon ongekende ekonomiese, sosiale en politieke probleme ervaar het. Libanon is die enigste land in die Midde-Ooste met ’n Christenpresident waar Christene ’n aanvaarde en herkenbare rol in die samelewing speel, óók in die politiek. In hierdie opsig is Libanon ’n baie strategiese land en het die Kerk ’n groot verantwoordelikheid in die streek. Met die Sjiïtiese groepe se aandrang op groter deelname en verteenwoordiging in die kabinet, sowel as die voortslepende politieke dooiepunt, oorweeg baie Libanese (Chrsitene ingesluit) egter om te emigreer. In ’n onderhoud met Christianity Today ná die ontploffing, het Ralph Zarazir, ’n verteenwoordiger van die Free Patriotic Movement, gesê: “Ons is die land met die grootste persentasie Christene in die Midde-Ooste, met ’n groot evangeliese gemeenskap. Ons het iets spesiaals. Wanneer ons egter in die knyp raak, is die Christene die eerstes wat padgee.” Indien ’n uittog van Christene wel plaasvind, kan die Kerk vastrapplek in die Midde-Ooste verloor.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir die behoud van Christelike invloed in die regering en vir voortgesette vooruitgang op die pad na ’n wettige, eerlike regeringstelsel;
  • dat noodsaaklike hulp sal aankom, sodat die lyding van die slagoffers van die ontploffing en ekonomiese onrus, verlig kan word; en
  • dat Libanese Christene te midde van die onrus nie moed sal verloor nie, maar standvastig sal bly ten opsigte van hulle evangeliese sending in Libanon en die wyer streek.

 

 

 

Foto: REUTERS / Dalati & Nohra via die Latin America News Agency

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES