TWEE ONTPLOFFINGS IN FILIPPYNE SE OPSTANDIGE SUIDELIKE STREEK

Philippines

Minstens 15 mense is dood en verskeie gewond, in twee ontploffings op Maandag, 21 Augustus, in die stad Jolo, in die suide van die Filippyne. Die eerste ontploffing het omstreeks twaalf uur die middag plaasgevind. ’n Tweede bom het ontplof terwyl veiligheidsmagte die gebied beveilig het. Agt veiligheidsmaglede, ses burgerlikes en die bomdraer is in dié tweede ontploffing dood. Die ontploffings het nie ver van die plek waar ’n Katolieke kerk in 2019 aangeval is, plaasgevind nie – in dáárdie aanval is meer as 20 mense dood. Maandag se aanval was die sesde selfmoordbomaanval in die Filippyne sedert 2017 – ’n seldsame tipe aanval in dié land. Niemand het nog verantwoordelikheid vir die ontploffings aanvaar nie. Die provinsie waarin die aanvalle plaasgevind het, naamlik Sulu, is die Abu Sayyaf-groep, verbonde aan die Islamitiese Staat (IS), se vesting. Abu Sayyaf veg in die suidelike streke van die eilande vir onafhanklikheid; volgens hulle is dié gebied die land van hulle voorvaders. Jolo is een van vele suid-westelike eilande met ’n Moslem-meerderheid in die andersins Katolieke-meerderheid Filippyne.

Uit ’n Christelike perspektief, is die Filippyne die tuiste van die grootste Christelike kerk in Asië, met meer as 86 miljoen gelowiges. As die enigste Christen-land in die streek, wend ekstremistiese Islamitiese groepe verhoogde pogings aan om dele van die eilandgroep in te neem. Na aanleiding van die toenemende getal aanvalle waarvoor die Islamitiese groepe die afgelope paar jaar verantwoordelikheid aanvaar het, het Efraim Tendero, algemene sekretaris van die Wêreld Evangeliese Bond en voormalige nasionale direkteur van die Filippynse Raad van Evangeliese Kerke, in ’n verklaring gesê: “Wat hulle [terreurgroepe] wil doen, is om Moslems en Christene teen mekaar op te sweep. Dit is egter duidelik dat die gematigde Moslemgemeenskap vredeliewend is. Hierdie aanvalle kom van ’n groep wat meer terreur probeer saai. ” Op 3 Julie 2020, het die Filippynse president, Rodrigo Duterte, die Anti-Terrorisme-wet van 2020 onderteken, wat die regering meer mag gee om groepe of individue wat “van plan is om dood, besering, skade aan eiendom of die gebruik van massavernietigingswapens om vrees in te boesem of die regering te intimideer”, as terroriste te beskou – met die hoop dat dit ook verdere aanvalle beter sal voorkom.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir voortgesette en suksesvolle pogings om vrede tussen mensegroepe te bevorder;
  • vir meer geleenthede om ongelowiges met die evangelie te bedien gedurende ’n tyd van onsekerheid en vrees; en
  • dat die kerk ’n baken van hoop en Christene ambassadeurs van vrede sal wees.

 

 

Foto: REUTERS / Stringer

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES