AMERIKA MISLUK OM SANKSIES TEEN IRAN HERINGESTEL TE KRY

US Iran sanctions

Amerika se poging om internasionale sanksies teen Iran heringestel te kry, het op 21 Augustus misluk toe die VN se Veiligheidsraad met 13 stemme teen 2 daartéén besluit het. Washington beweer Iran het die kernverdrag van 2015 verbreek – dié ooreenkoms was bedoel om Teheran te verhoed om kernwapens te ontwikkel, in ruil vir die verligting van sanksies. Die lande wat téén Amerika se poging gekant was – spesifiek die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk – het briewe by die raad ingedien waarin hulle verklaar dat Amerika nie die mag het om ’n ooreenkoms af te dwing waaruit hy sélf in 2018 onttrek het nie. Ná die veto, het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, ’n spertyd van 30 dae aangekondig, waarná die sanksies weer ingestel moet word, omdat, soos hy dit gestel het, Amerika “geen toestemming nodig het” om met die sanksies voort te gaan nie. Dít omdat die konsepresolusie van 2015 Amerika steeds as ’n deelnemende party omskryf. Pompeo het ook waarskuwings van “optrede deur Amerika” aan Rusland en China gerig, indien hulle in gebreke sou bly om die sanksies binne die voorgeskrewe 30 dae weer in te stel. Binne 24 uur nadat Pompeo met die “terugkap”-proses begin het, het 13 lande briewe van teenkanting by die raad ingedien. Slegs die Dominikaanse Republiek het in die guns van Amerika gestem om met die sanksies voort te gaan.

Uit ’n Christelike perspektief het die sanksies wat teen Iran ingestel is, die Irannese ekonomie die afgelope jare só geknou dat inflasie tot 37% gestyg het en voedsel- en hulpbrontekorte regoor die land tot gevolg gehad het. In ’n brief aan die pous, het die Irannese geestelike, Ayatollah Seyed Mostafa Mohaghegh Damad Ahmadabadi, die Vatikaan om hulp gevra om die sanksies te beëindig. Die Vatikaan het die gebruik van ekonomiese sanksies in sy “Social Doctrine of the Church” aangespreek en gesê hoewel ekonomiese sanksies nie inherent immoreel is nie, dit steeds volgens etiese beginsels toegepas moet word. Dít sluit in dat die sanksies nie ’n ernstige effek op die lewens van die gemiddelde burger sal hê nie. Die Vatikaan het op die brief gereageer deur Ahmadabadi se kommer aan die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Kelly Craft, oor te dra. Dit is egter belangrik om daarop te let dat ’n korrelasie tussen Iran se ekonomiese stand en die groei van die Kerk waargeneem kan word. Volgens ’n kontak van INcontext in Iran, is daar telkens, wanneer sanksies lewensomstandighede in Iran laat versleg, ’n bestendige toename in Irannese bekeerlinge na Christus. Die teenoorgestelde is waargeneem wanneer sanksies opgehef word: kerkgroei neem af gedurende tye van welvaart.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir wysheid wanneer internasionale leiers met Iran samesprekings voer;
  • vir voortgesette kerkgroei – in tye van ekonomiese stabiliteit sowel as in tye van druk; en
  • dat die kerk ’n bron van hoop en hulp sal wees – fisies sowel as geestelik.

 

 

 

Foto: REUTERS / Mike Segar

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES