26 AUGUSTUS ’20 | BID VIR MALI

26Aug20-Mali_Afr

Liewe gebedsvriende

Leiers van Mali se militêre junta – onder leiding van kolonel Assimi Goita – en bemiddelaars uit Wes-Afrika se politieke streeksblok, gelei deur die voormalige Nigeriese president, Goodluck Jonathan, het op Sondag, 23 Augustus, ’n geslote vergadering gehou. Onder bespreking was ’n oplossing vir die land se heersende leierskapskrisis. Nadat president Ibrahim Boubacar Keita op Dinsdag, 18 Augustus, tydens ’n gewapende staatsgreep aangehou is, het hy bedank en die parlement ontbind. Kolonel Assimi Goita het homself op Woensdag, 19 Augustus, as leier benoem, wat aan die stuur van sake sal staan totdat ’n “tussentydse president” kan oorneem. Die beraadslagings gaan hierdie week voort.

Die Suid-Afrikaanse president en voorsitter van die Afrika-unie, Cyril Ramaphosa, het die “ongrondwetlike regeringsverandering” in Mali veroordeel en geëis dat die politici wat in aanhouding is, bevry moet word. China het ook gesê dat hy téén gewelddadige regeringsverandering gekant is, terwyl die leiers van die EU ook op die vrylating van die aangehoudenes aangedring het. Hoewel die afsetting van Mali se president in die buiteland wyd gekritiseer is, is dit binnelands deur vele wat reeds maande lank politieke onrus en Islamitiese opstande moes verduur, verwelkom.

Duisende mense het Vrydag, 21 Augustus, op die hoofstad se Onafhanklikheidsplein vergader om Keita se militêre omverwerping te vier. Mali se landsvlag is deur baie mense rondgeswaai terwyl daar op vuvuzelas geblaas is. Betogings is reeds sedert ’n betwiste parlementsverkiesing in Maart aan die gang. In Junie het betogers die strate ingevaar en President Keita se bedanking geëis – hy is daarvan beskuldig dat hy Mali se ekonomie laat ineenstort het, dat hy korrupsie pleeg en die land se veiligheid in groot dele, waar affiliasies van Al-Kaïda en die Islamitiese Staat (IS) bedrywig is, verswak. Mali is die spilpunt van Frans-geleide pogings om jihadiste uit die Sahel te verdryf. Mali se buurlande is angstig en wil ook voorkom dat dié land nie in chaos verval nie.

Mali het ongeveer 20 miljoen inwoners, waarvan 87.5% belydende Moslems is; na verneem word, maak Christene sowat 2.8% van die bevolking uit. Hoewel Malinese tradisioneel ’n betreklik liberale weergawe van Islam beoefen, is radikalisering besig om toe te neem – dit het gelei tot ’n toename in geweld teen Christene deur jihadistiese groepe soos Al-Kaïda, en deur kriminele organisasies wat bande met radikale Islamitiese rebellegroepe het.

Ons is die liggaam van Christus – as een lid ly, ly almal. Bid asseblief saam met ons vir Mali en ons broers en susters wat in Mali woon.

“Daar was nog nooit ‘n geestelike ontwaking in enige land of plek, wat nie met verenigde gebed begin het nie.” (A.T. Pierson)

 

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES