STREEKSLEIERS VRA ‘PLAN VAN AKSIE’ TEN OPSIGTE VAN OPSTAND IN MOSAMBIEK

Mozambique

Suider-Afrikaanse leiers het hulle op Maandag 17 Augustus daartoe verbind om die Mosambiekse regering in die stryd teen die opstand in die Cabo Delgado provinsie te ondersteun. Hulle het egter geen spesifieke besonderhede gegee oor watter praktiese of militêre hulp hulle sal verleen nie. Die Islamitiese groep Ahlu Sunna Wal Jama of Ansar al-Sunna (wat “ondersteuners van tradisie” beteken), wat trou aan die Islamitiese Staat (IS) gesweer het, het verlede week die strategiese hawe, Mocimboa da Praia, in die noorde van Mosambiek beset. Dié hawe is in Maart ingeneem en kortstondig beset, maar is deur regeringsmagte bevry. Met die jongste aanslag blyk die Islamitiese terroristegroep egter beter georganiseerd te wees – hulle is selfs in staat om herhaalde pogings van die regeringsmagte om die hawe te herower, af te weer. Die onlangse, meer georganiseerde en volgehoue gevegte, dui daarop dat die groep moontlik deur buitelandse elemente wat beter opleiding en finansiële hulpbronne bied, gesteun word. Die Islamitiese opstand, wat in 2017 begin het, het tot dusver ’n geskatte 250,000 mense ontwortel, met ’n beraamde verlies van 1,500 lewens. Die motief agter die opstand word betwis, maar daar word vermoed dat die verowering van uitgebreide natuurlike hulpbronne (gas- en oliereserwes) ’n belangrike dryfveer is. Die uitbreiding van militante Islam onder die vaandel van die Islamitiese Staat kan ’n sekondêre faktor wees (hoewel hulle dikwels hand aan hand loop). Die Islamitiese Staat is daarvoor bekend dat hy sy magte deur gedwonge werwing aanvul – en vir die ongenaakbare hantering van diegene wat weier. In April is 52 jong mans doodgemaak omdat hulle geweier het om soldate van die Islamitiese Staat te word. Volgens berigte uit die gebied word sowel Moslems as Christene voor die voet aangeval. Suid-Afrika, as aangrensende land, is deur die Islamitiese Staat gewaarsku om nie in te meng nie – ingryping kan egter onvermydelik wees. Aangesien Suid-Afrika en Mosambiek ’n gemeenskaplike handelsroete benut, kan Suid-Afrika ernstig benadeel word deur die voortslepende konflik in Mosambiek.

Uit ’n Christelike perspektief word Christelike aktiwiteite in die noorde van Mosambiek negatief beïnvloed deur die voortslepende Islamitiese opstand, aangesien dié gebied ’n Moslem-meerderheid het. Mosambiek, tans nommer 180 uit 189 lande op die Menslike Ontwikkelingsindeks, beleef uiterste armoede. Die regering beskik ook nie oor die vermoë om herhaalde terugslae te oorkom nie – soos byvoorbeeld sikloon Idai wat Beira in 2019 getref en meer as $2-miljard skade veroorsaak het. Sowel plaaslike as buitelandse Christelike organisasies kon die regering oor jare heen help om sommige van sy tekortkominge te oorkom deur honderde duisende ontworteldes dwarsoor die land te voed, te klee en huisvesting te bied. Kerkgroepe wat humanitêre operasies wil loods, kan dit egter al hoe moeiliker vind om in Mosambiek te werk, veral nadat president Filipe Nyusi op 14 Augustus in Pemba in ’n toespraak gesê het: “Daardie goed-beskermde Mosambiekers wat die lyding van dié wat hulle beskerm, gering ag – insluitend sekere buitelanders wat vrywilliglik in Mosambiek woon, maar onder die dekmantel van menseregte die opoffering van diegene wat hierdie jong tuisland staande hou en hulle verblyf in Cabo Delgado en Mosambiek in die algemeen, verseker, nie respekteer nie.” Sy opmerkings het gevolg op voortgesette kritiek deur die Katolieke biskop van Pemba, Luíz Fernando Lisboa, wat beweer dat die regering nie genoeg doen om die opstand teë te werk nie. Luíz Fernando Lisboa het gesê: “Weens onverskilligheid en omdat ons blykbaar gewoond geraak het aan oorloë, weet die wêreld steeds nie wat aangaan nie. Daar is oorlog in Irak, daar is oorlog in Sirië en daar is nou ook ’n oorlog in Mosambiek.”

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat sowel die Mosambiekse regering as ander streeksleiers met groot wysheid op die opstand sal reageer;
  • dat die regering en Christelike organsisasies in onderlinge vertroue met mekaar sal saamwerk om die bevolking van Mosambiek te dien; en
  • dat sendelinge en kerke die leiding van die Gees sal volg en hulle mandaat onbeskaamd sal uitvoer.

 

 

 

Foto: Daily Maverick

https://www.dailymaverick.co.za/wp-content/uploads/Global-Moz-InsurgencyTW-Moz-Armed-insurgents-Quissanga-with-caption.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES