ISRAEL EN DIE VERENIGDE ARABIESE EMIRATE BEREIK OOREENKOMS OM BETREKKINGE TE NORMALISEER

Israel-UAE

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het op Donderdag, 13 Augustus, aangekondig dat Israel en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) ’n ooreenkoms met Israel bereik het om betrekkinge tussen dié twee Midde-Oosterse lande te normaliseer. Trump was behulpsaam met die bemiddeling van die ooreenkoms wat die VAE slegs die derde Arabiese moondheid maak – ná Egipte (in 1979) en Jordanië (in 1994) – wat ’n vredesverdrag met Israel aangaan sedert dié land se onafhanklikheidswording in 1948. Dié ooreenkoms tussen die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu en die kroonprins Mohammed bin Zayed Al Nahyan van Abu Dhabi, behels dat Israel die beplande anneksasie van sekere dele van die Wesoewer opskort. Netanyahu het gesê hoewel hy ingestem het om die anneksasie “uit te stel”, die planne steeds “op die tafel” bly. Ander sfere van samewerking tussen die twee lande, sal beleggings, direkte vlugte, tegnologie, gesondheidsorg, sekuriteit en die vestiging van wedersydse ambassades insluit. Die ooreenkoms het gemengde reaksies ontlok, met Mahmoud Abbas, die Palestynse president, wat ’n verklaring uitgereik het waarin hy die ooreenkoms verwerp en veroordeel. Die president van Iran, Hassan Rouhani, het gesê die ooreenkoms is ’n “groot fout”, en dat dit “verraad teenoor die Palestynse saak” is. Ander Arabiese lande, soos Egipte, Jordanië, Bahrein en Oman, het gunstig op die ooreenkoms gereageer, aangesien hulle dit as ’n positiewe stap in die rigting van vrede vir die streek beskou. Gedurende die aankondiging het Trump bygevoeg: “Noudat die ys gebreek is, verwag ek dat meer Arabiese en Moslemlande die Verenigde Arabiese Emirate se voorbeeld sal volg.”

Uit ’n Christelike perspektief is enige vredesooreenkoms tussen Israel en ’n Arabiese volk rede tot vreugde. Baie mense vereenselwig die Midde-Ooste met oorlog en konflik, veral na aanleiding van die vyandigheid van die meeste Arabiese lande teenoor Israel. Dit veroorsaak dat ’n vredesooreenkoms soos hierdie ’n reusagtige deurbraak vir vrede in die breër streek is – dít is rede tot dankbaarheid. ’n Palestynse gelowige in Israel het opgemerk dat Palestynse gelowiges verdeeld is oor die ooreenkoms – een groep voel verraai deur die VAE en sê dat daar onderhandel moes word vir meer voordele ten opsigte van die Palestynse saak. Die ander groep beskou dit as ’n uiters positiewe stap wat Israel sal bevoordeel en ook positiewe gevolge vir die Palestyne sal hê. Hulle hoop dat dit die oorlog-behepte Palestyne sal oortuig dat vrede moontlik is en dat dit hulle positief sal stem. Soos Trump ook genoem het, word gehoop dat nóg Arabiese en Moslem-lande die VAE sal volg, noudat hulle sien dat vrede moontlik is.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir die beskerming van die vredesooreenkoms teen enige aanslag van die vyand;
  • dat hierdie vredeshandeling ander lande ook sal aanmoedig tot vredesonderhandelinge met Israel; en
  • dat gelowiges in Israel die onderwerp van vrede sal gebruik om ongelowiges aan die Vredevors voor te stel.

 

 

 

Foto: Jerusalem Post

https://images.spot.im/v1/production/etbl2zddaumx4wvrwlye

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES