KORONAVIRUS LEI TOT DRAMATIES AFGESKAALDE HADJ

Hajj 2020

Slegs 1,000 mense sal vanjaar toegelaat word om aan die Hadj – die Moslem-reis na Mekka – deel te neem  terwyl Saoedi-Arabië steeds met die koronavirus stoei. Dié jaarlikse pelgrimstog bring gewoonlik miljoene Moslems na Mekka, Islam se heiligste plek. Die weeklange viering verdien jaarliks gemiddeld ​ $12-miljard vir die Saoediese ekonomie. Vanjaar is die reis egter beperk tot inwoners van Saoedi-Arabië. Niemand ouer as 65 of enige persoon met chroniese gesondheidsprobleme mag daaraan meedoen nie. Elke pelgrim sal vir COVID-19 getoets word voordat hulle Mekka binnegaan; sosiale distansiëring sal gehandhaaf word en maskers sal verpligtend wees. Slegs diegene in besit van Hadj-permitte sal by heilige persele toegelaat word. Nog voordat Saoedi-Arabië die maatreëls aangekondig het, het verskeie lande reeds hulle inwoners deelname verbied weens kommer oor die verspreiding van die virus. Dit is die eerste keer sedert die totstandkoming van die Koninkryk van Saoedi-Arabië in 1932, dat buitelandse besoekers verbied word. Die Hadj val saam met die Eid-oel-Adha, ook offerfees genoem. Die Eid-oel-Adha (die meer vername van twee jaarlikse feeste) word ter ere van Abraham gevier omdat hy bereid was om sy seun in opdrag van God te offer.

Uit ’n Christelike perspektief skep die viering van Eid-oel-Adha geleenthede vir Christene om na hulle Moslem-bure uit te reik en geloofsgesprekke met hulle aan te knoop, aangesien laasgenoemdes die belangrikheid van die verhaal van Abraham wat bereid was om sy seun te offer, verstaan – hoewel hulle glo dat dit Ismael was en nie Isak nie. Die belang van hierdie verhaal vir sowel Moslems as Christene, kan as aanknopingspunt dien vir Christene om met Moslems in gesprek te tree. Die Hadj-beperkings kan ’n soortgelyke geleentheid bied, aangesien hierdie uitsonderlinge veranderings vrae by Moslems kan wek. Baie Moslems sal hulle tydens die Hadj en Eid-oel-Adha in die bestudering van geestelike aangeleenthede en Islam verdiep. Die Kerk moet dus in hierdie tyd bid dat elke Moslem wat sy of haar geloof bevraagteken, die waarheid van Jesus sal ontdek.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat Moslems wat opreg na God soek, die waarheid dat Jesus die volmaakte lam en voldoende offer is, sal ontdek;
  • dat Christene geleenthede sal kry om vrugbare gesprekke met Moslem-bure en vriende te hê; en
  • dat Christene wat hulle in lande met ’n Moslem-meerderheid bevind, standvastig sal bly gedurende ’n week wat deur die Islamitiese geloof en tradisie oorheers word.

 

 

 

Foto: REUTERS/Saudi Ministry of Media

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES