VYANDIGHEDE TUSSEN AZERBEIDJAN EN ARMENIË ESKALEER

Azerbaijan

Een van die wêreld se mees uitgerekte gebiedsgeskille – in die Kaukasiese gebergte – het weer opgevlam nadat 20 mense op 12 Julie in gevegte op die grens tussen Armenië en Azerbeidjan, dood is. Dit was nie onmiddellik duidelik wat die geweld veroorsaak het nie, maar beide lande het die ander daarvan beskuldig dat húlle die vyandelikhede weer laat ontvlam het. Die Kaukasiese volke, wat die gebied tussen die Swart See en Kaspiese See bewoon, sit op ’n plofbare, geo-strategiese, etnies-godsdienstige ‘foutlyn’ tussen drie magte, naamlik Turkye, Iran en Rusland. Die afgelope dekades het politiek oor die olie- en gaspyplyne die woekerpot en meegaande spanning in die streek dramaties laat styg. Indien ’n oorlog in die Suid-Kaukasiese streek, spesifiek tussen Armenië en Azerbeidjan, sou uitbreek, sal dit waarskynlik ander lande in die streek betrek, met Rusland wat Armenië steun en Turkye wat Azerbeidjan steun. Die veel betwiste Nagorno Karabakhan is ’n Armeense Christen-enklawe binne Azerbeidjan, ’n land met ’n moslem-meerderheid. Hoewel dit histories-, kultureel- en demografies-gesproke Armeens was (sowat 94.5%), het Azerbeidjan die bergagtige grondgebied in 1918 geannekseer, wat tot oorlog tussen die twee nasies gelei het. Gevegte het in die daaropvolgende jare gevolg, maar die konflik is in 1994 met ’n wapenstilstand opgeskort. Hernude geweld in 2016 en tans (in 2020) voorspel niks goeds nie, veral omdat Turkye sy militêre ‘spiere’ op verskeie plekke (Libië, Sirië, Irak en elders) bult.

Uit ’n Christelike perspektief staar ​​Armeense Christen-gemeenskappe in lande soos Turkye en Azerbeidjan – waar die uitroei van Christen-minderhede deur die Ottomaanse Ryk steeds sentraal in hedendaagse nasie-bou staan – voortdurende teistering, intimidasie en aanhitsing tot geweld in die gesig. Daar word gesê dat, om in Azerbeidjan Armeens te wees, gelykstaande daaraan is om “’n misdaad te pleeg”. Die Europese Kommissie vir rassisme en onverdraagsaamheid het bevind dat ‘Armenofobiese’ haatspraak sedert Azerbeidjan se onafhanklikheid van die Sowjetunie in 1991, só ingeburger is, dat baie Azerbeidjani’s grootgeword het met niks anders as diskriminerende retoriek teenoor die Armeense volk nie. Tussen 1997 en 2006 was Azerbeidjan aandadig aan die vernietiging van 89 middeleeuse Armeense kerke. Die eskalering van vyandelikhede bedreig een van die oudste en lewendigste Christengemeenskappe ter wêreld –  dít in ’n streek waar die Christelike geloof op verskeie fronte aangeval word.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n deurslaggewende wending sodat ’n volwaardige oorlog in die streek afgeweer kan word;
  • dat die Here die gelowiges in Azerbeidjan sal versterk om, te midde van toenemende druk, standvastig en veerkragtig te bly; en
  • dat gelowiges ’n spieëlbeeld van Christus vir hul vyandige ‘bure’ sal wees.

 

 

 

Foto: Armenia Now

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES