NÓG INHEGTENISNEMINGS IN IRAN NÁ BETOGINGS

Iran protesters

Die Irannese polisie het verskeie mense, wat volgens hulle “aanhitsers” van die protesoptogte teen die regering was, in hegtenis geneem. Dié betogings het verlede week in die stad Behbahan, in die suidweste van die land, plaasgevind. Die regering se hantering van Iran se verdiepende ekonomiese krisis en koronavirus-pandemie, het tot die verhoging in openbare onrus bygedra. Iran se regeerders het probeer om ’n herhaling van verlede November se protesoptogte, waarin honderde mense dood is, te voorkom. Veiligheidsmaatreëls is dus verskerp namate die Irannese bevolking toenemend met meer vrymoedigheid kritiek teen regerings-onderdrukking uitspreek. Irannese uit verskillende politieke, ekonomiese en kulturele agtergronde — prokureurs, onderwysers, sokkerspelers, kunstenaars, studente en aktiviste — het op 15 Julie ’n ongekende Twitterstorm (meer as 4.5 miljoen twiets wêreldwyd) ontketen deur die hitsmerk #DoNotExecute te deel. Dít was uit protes teen die regstelsel se handhawing van die doodsvonnisse van drie mans wat ná verlede jaar se landswye betogings in hegtenis geneem is. Die teregstellings wat op hande is, word deur baie mense as ’n waarskuwing van die regering teen rebellie beskou. Dit is egter interessant om daarop te let dat soortgelyke omstandighede in 1979 tot die omverwerping van die sjah gelei het in [Ayatollah Ruhollah] Khomeini se rewolusie. Dit blyk dat Iran se Guardian Council daarvan bewus is dat hy besig is om sy greep op die massas te verloor; dit lyk egter of hulle voortdurend op verdere onderdrukking terugval.

Uit ’n Christelike perspektief word Irannese gelowiges gereeld deur Iran se veiligheidstelsel geteiken. In Julie 2019 het die Irannese owerheid agt Christen-bekeerlinge in die suidoostelike Persiese Golf-stad Bushehr gearresteer (een van hulle is later op grond van haar ouderdom vrygelaat). In April 2020 is die sewe oorblywende gelowiges aan ‘propaganda teen die staat’ skuldig bevind ingevolge artikel 500 van die strafbepalings. In Junie is ’n klopjag op ’n huiskerk in die Yaftabad-distrik (in die westelike deel van Teheran), uitgevoer en al 30 gelowiges wat teenwoordig was, is na die intelligensie-hoofkwartier geneem. Die klopjag is glo met behulp van ’n informant wat die groep binnegedring en hulle vertroue gewen het, gekoördineer. Ingevolge wysigings wat in Mei aan artikels 499 en 500 van die Islamitiese Strafwet aangebring is, kan diegene wat skuldig bevind word aan ‘afwykende sielkundige manipulasie’ of ‘propaganda in stryd met Islam’, hetsy in die ‘reële óf virtuele sfeer’, as ‘sektes’ bestempel word en gevangenisstraf, lyfstraf, boetes of selfs die doodstraf opgelê word. In die verlede het Iran godsdienstige taal vermy in die vervolging van Christene, omdat dit kritiek op Iran se menseregte ontlok het. In plaas daarvan is Christene vir nie-godsdienstige misdrywe m.b.t. nasionale veiligheid aangekla. Dit het nou verander, wat beteken dat daar waarskynlik ’n toename in die vervolging van Christene mag wees.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Irannese leiers hulle houding teenoor hul mense sal versag en konstruktief op hulle noodkrete sal reageer – nie met ‘straf en onderdrukkig’ nie;
  • dat die Irannese Kerk sal aanhou groei, ten spyte van vervolging; en
  • vir gelowiges in die tronk.

 

 

 

Foto: https://ichef.bbci.co.uk/news/320/cpsprodpb/7C7E/production/_113407813_4.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES