22 JULIE ’20 | BID VIR THAILAND

22Jul20-Thailand_Afrl

Liewe gebedsvriende

Op Saterdag, 18 Julie, het duisende betogers die strate van Bangkok, die hoofstad van Thailand, ingevaar om op ’n nuwe grondwet, nuwe verkiesings en die afskaffing van onderdrukkende wette aan te dring. Groepe studente het die protesoptogte aan die gang gesit, maar deur die loop van die aand het honderde mense by hulle aangesluit.

Toegang tot die Demokrasie Monument is deur die polisie afgesper, maar betogers het bo-oor metaal-versperrings geklouter en deur die polisie-versperring gedring. (Dié monument is opgerig om die 1932-rewolusie te gedenk, na aanleiding waarvan ’n konstitusionele monargie gevestig is). Die polisie was die hele aand op bystand, maar het nie ’n poging aangewend om die betogings te keer nie. Teen middernag het die betogers uiteengegaan; die organiseerders sê egter dat indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie, hulle oor twee weke na die strate sal terugkeer.

Eerste minister Prayuth Chan-ocha, die voormalige hoof van die leër wat in 2014 ’n verkose regering uit die kussings gelig het, het sy amp ná die 2019-verkiesing behou. Betogings het in Februarie vanjaar begin, nadat ’n gewilde politieke opposisieparty deur ’n hof ontbind is. Sedertdien loop die politieke spanning hoog.

Thailand is die tuiste van meer as 67 miljoen mense, waarvan 88.4% Boeddhiste is. Christene vorm ’n ontsettend klein persentasie van die totale bevolking – slegs sowat 1.3%. Die Christelike geloof word steeds as ’n vreemde godsdiens beskou – om Thai te wees, is om ’n Boeddhis te wees. Bekeerlinge tot die Christendom word beskou as mense wat die weë van die voorgeslagte verlaat en vreemde praktyke aanhang. Geweld teen gelowiges is skaars; daar is egter geweldige druk op bekeerlinge om na hulle ou oortuigings en praktyke terug te keer. Baie Thaise Christene glo dat hulle geroep is om die kloof tussen Boeddhisme en Christenskap te oorbrug, deur aan hulle erfenis getrou te bly en Jesus terselfdertyd van harte te omhels.

Bid asseblief saam met ons vir Thailand.

“Om aan Jesus te behoort, is om saam met Hom die nasies te omarm.” (William Carey)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES