1 JULIE ’20 | BID VIR MIANMAR

1Julie20-Mianmar_Afrl

Liewe gebedsvriende

Op Sondag 28 Junie het die Verenigde Nasies sy kommer uitgespreek oor die humanitêre impak van gevegte in Mianmar se westelike Rakhine- en Chinstate. Die konflik tussen Mianmar se weermag en die Arakese weermag – ’n rebellegroep wat hulle vir groter outonomie vir etniese Rakhine-Boeddhiste beywer – het die afgelope paar weke geëskaleer. Die VN het ’n beroep op beide partye gedoen om “dringende maatreëls te tref om burgerlike lewens te spaar”, aangesien die konflik ’n toename in geweld, met baie sterftes (veral onder kinders), veroorsaak het. Verder staar sommige inwoners hongersnood in die gesig. Duisende het gevlug en buite die landsgrense ’n toevlug gaan soek.

Op Donderdag 25 Junie, het inwoners van ’n dorpie in Indonesië ’n boot vol Rohingya-vlugtelinge, wat vlug voor die voortslepende konflik in Mianmar en oorvol kampe in Bangladesj, na veiligheid geneem. Vroeër vandeesmaand het Bangladesj gesê hy sal nie die bykans 300 Rohingya, wat deur Maleisië aangehou word, nadat hulle in ’n ronddrywende boot naby die noord-westelike eiland Langkawi gevind is, terugneem nie. Die afgelope twee maande het Maleisiese owerhede herhaaldelik bote vol asielsoekers wat aanland wou gaan, weggewys en sodoende honderde Rohingya in lewensgevaarlike toestande ter see gelaat.

Die Rohingya, ook van Mianmar se konflik-geteisterde Rakhine-staat, het haglike omstandighede en ’n onsekere toekoms in die gesig gestaar sedert ’n dodelike aanslag deur die regering in Augustus 2017, toe honderde duisende die grens na Bangladesj oorgesteek het. Aan uiterste geweld blootgestel, het die Rohingya te voet of seelangs van hulle huise weggevlug. In Januarie 2020 het die Verenigde Nasies se hoogste hof Mianmar aangesê om maatreëls te tref om lede van sy Rohingya-gemeenskap (’n Moslem-minderheidsgroep) teen volksmoord te beskerm. Mianmar se regering (’n Boeddhiste-meerderheid nasie) het egter volhardend geweier om aan die Rohingya burgerskap te gee, aangesien hulle as migrante van Bangladesj beskou word. Hulle is selfs van die 2014 sensus uitgesluit. Hulle bly steeds ’n staatlose volk.

Daar word beraam dat Christene in Mianmar ongeveer 8.2% van die bevolking uitmaak – baie van hulle is self uit minderheidsgroepe afkomstig. Volgens vele bronne word daar in beduidende mate teen Christen etniese-minderheidsgroepe in Mianmar gediskrimineer. Berigte oor gedwonge “bekering” tot Boeddhisme, beperkings op kerkbou en geloofsbyeenkomste, dwangarbeid, moord, marteling, verkragting, ontvoering en ander geweldsdade deur die weermag op Christene, doen die rondte.

Bo en behalwe Mianmar se vele huidige uitdagings, het die wêreldwye COVID-19-pandemie ook ’n stewige knou op Mianmar se ekonomie toegedien, waar ’n styging in die armoedesyfer voorspel word.

Bid asseblief saam met ons vir Mianmar – ’n land wat dringend gebed en goddelike ingryping benodig.

“Gebed is die magtigste instrument waarmee God se werk bevorder kan word.” (E. M. Bounds)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES