JEMENITIESE SEPARATISTE LÊ BESLAG OP DIE EILAND SOCOTRA

Socotra

Die Suidelike oorgangsraad, ’n groep Jemenitiese separatiste, het beheer van die eiland Socotra oorgeneem en sy goewerneur verdring in ’n aksie wat die Saoedi-gesteunde regering as ’n staatsgreep beskryf het. Die Suidelike oorgangsraad het in April mag oor die suidelike deel van Jemen verklaar, wat pogings om ’n permanente wapenstilstand teweeg te bring, bemoeilik het in ’n oorlog wat al jare lank voortduur. Die Suidelike oorgangsraad het beslag gelê op regeringsfasiliteite en militêre basisse op dié eiland, wat in die Golf van Aden en een van die besigste skeepsroetes ter wêreld geleë is. Ramzi Mahroos, die goewerneur van Socotra, het Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate daarvan beskuldig dat hulle hul blind gehou het. Volgens ’n Reuters-bron het Saoedi-Arabië probeer om ’n ooreenkoms tussen die Jemenitiese regering en separatiste te bemiddel, maar die Suidelike oorgangsraad het geweier om aan vredesonderhandelinge deel te neem. Die voortslepende oorlog in Jemen is al jare lank op ’n militêre dooiepunt vasgevang. Dit het een van die wêreld se ergste humanitêre krisisse tot gevolg gehad, terwyl voortgesette geweld en onlangse COVID-19-maatreëls hulporganisasies ernstig verhinder om diegene wat die ergste deur die oorlog geraak word, te bereik.

Uit ’n Christelike perspektief is die eiland Socotra die tuiste van een van die ‘mees onbereikte’ mensegroepe ter wêreld. Hulle het tot dusver nie aan gevegte op Jemen se vasteland deelgeneem nie. Hoewel die Jemenitiese Kerk een van die kleinste groepe gelowiges op rekord is, staan baie mense van oor die wêreld saam met hulle in gebed. Volgens kontakte in die land, bid gelowiges daar vir ’n vreedsame oplossing en dat die geestelike saad wat op die eiland gesaai is, sal groei, terwyl hulle aan die belofte in Openbaring, dat elke stam en taal die Here sal leer ken, vashou.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n deurbraak in vredesmakingspogings in die aanhoudende konflik in Jemen;
  • dat inwoners van Socotra aan die evangelie blootgestel sal work; en
  • dat die Kerk in Jemen bemoedig sal word om nie die geestelike stryd, te midde van oorlog en isolasie, op te gee nie.

 

 

Foto: GUARDIAN GRAPHIC

https://www.theguardian.com/world/2020/jun/21/yemen-separatists-seize-island-of-socotra-from-saudi-backed-government

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES