24 JUNIE ’20 | BID VIR DIE WÊRELD-EKONOMIE

24Jun20-Wereld-ekonomie_Afr

Liewe gebedsvriende

Die COVID-19-pandemie het vinnig oor die hele wêreld versprei en miljoene mense besmet. Dit het ’n enorme impak op die wêreld soos ons dit geken het, gehad; daar was duisende sterftes, dit het ons lewenswyse ontwrig en tot groot werksverliese gelei. Volgens ’n spesiale verslag deur die Wêreldbank (vir Junie 2020) “verteenwoordig hierdie pandemie, wat aktiwiteite wêreldwyd tot stilstand geruk het, die grootste ekonomiese skok wat die wêreldekonomie in dekades ervaar het.”  

In die Midde-Ooste het die dramatiese daling in Sirië en Libanon se geldeenhede (gemeet aan die dollar), tot protesoptrede in albei lande gelei. Hoewel salarisse en lone dieselfde gebly het, het die prys van voedsel en gebruiksartikels die hoogtes ingeskiet. Dit het daartoe gelei dat baie winkels en markte gesluit het, wat die daaglikse bestaan vir ’n groot gedeelte van die bevolking in albei lande baie moeilik maak. Daar is ook ’n groot toename in haweloosheid en kinders wat op straat kos soek. *INcontext International het kontakte in albei lande en het die afgelope weke, namate die situasie meer benard raak, talle gebedsversoeke ontvang.

Suid-Soedanse vlugtelinge wat in Uganda woon, het ook ’n geweldige afname van 30% in hul voedselrantsoene ervaar, aangesien groot organisasies soos die VN, nie hul finansieringsverpligtinge kon nakom nie. Dit het daartoe gelei dat maaltye van drie tot een per dag verminder is. Dit lei op sy beurt tot ondervoeding en vir sommige, selfs hongersnood. **Die Crisis Response Network het onlangs ’n projek geloods wat daarop gemik is om van die kwesbaarste gesinne van adissionele voedsel te voorsien.

In Suid-Afrika het TransUnion van 28 Mei tot 1 Junie ’n aanlyn-opname gemaak om te bepaal ​​hoe Suid-Afrikaners finansieel deur die COVID-19-gesondheidskrisis geraak word. Hulle het bevind dat 14% van die mense werksverliese gely het – dit beteken ongeveer een uit elke ses mense het hul bron van inkomste verloor as gevolg van die impak van die koronavirus en die meegaande inperkings. Hierbenewens het ongeveer 37% van die respondente gesê dat hul werksure verminder is.

In Matteus 6:26 deel Jesus God se hart met ons: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Ons is kosbaar vir God; Hy voorsien in die behoeftes van Sy ganse skepping en sal ons van ons daaglikse brood voorsien.

Bid asseblief saam met ons vir die wêreldekonomie en vir wysheid vir diegene wat in leierskap is, dat hulle geregtige keuses sal maak wat tot voordeel van die meerderheid sal strek en nie slegs ’n handjievol mense sal bevoordeel nie.

“Die dinge wat deur ons of deur die wêreld as nietig beskou word, gee Hy voor om en wil Hy regstel. Hy smag daarna om ons bekommernisse te verlig en het belowe om in ons mees fundamentele behoeftes te voorsien.” (Charles R. Swindoll)

* https://www.incontextinternational.org/projects-Syria/

** https://crisisresponsenetwork.net/south-sudan-refugees-in-uganda/

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES