CHINA SE VOORGESTELDE VEILIGHEIDSWET LEI TOT HERNUDE PROTESAKSIE IN HONGKONG

Hong Kong

Protesoptogte het weer in Hongkong uitgebreek nadat Beijing ’n wetsontwerp op nasionale veiligheid bekendgestel het, wat die soewereiniteit van Hongkong kan bedreig. Die wet sal Beijing in staat stel om intelligensie-agentskappe in Hongkong te vestig, met die doel om “afstigting, ondermyning en terroriste-aktiwiteite” teë te werk. Die Chinese minister van veiligheid, John Lee, voer aan dat ’n toename in terrorisme in Hongkong die hoofrede vir die voorgestelde wet is. Hongkong het verlede jaar langdurige, ​​gewelddadige betogings verduur, nadat Beijing ’n uitleweringswetsontwerp aangekondig het ingevolge waarvan Hongkongers vir vervolging na die vasteland gestuur sou kon word vir sekere misdade. Dié wetsontwerp is intussen opgeskort. Op 24 Mei is 180 mense tydens nuwe protesaksies in hegtenis geneem toe polisie traangas en waterkanonne gebruik het om betogers te beheer. Hierdie keer is daar ’n groter oproep tot Hongkong se onafhanklikheid – ’n opsie wat Beijing glad nie oorweeg nie. Lede van die internasionale gemeenskap het ook hul afkeer aan die wetgewing te kenne gegee en hulle kommer uitgespreek oor die moontlike uitwerking daarvan op Hongkong se rol as ’n belangrike ekonomiese spilpunt. Chinese amptenare voer aan dat die wet slegs ’n klein persentasie Hongkongers (wat as “moeilikheidmakers” beskou word), sal beïnvloed en dat die internasionale sakegemeenskap niks het om oor bekommerd te wees nie. Daar word verwag dat betogings oor die volgende dae sal voortduur, aangesien die Hongkongse wetgewer beplan om wetgewing voor te stel wat die misbruik van die Chinese volkslied sal kriminaliseer.

Uit ’n Christelike perspektief is hierdie uiters betekenisvolle tye vir Hongkong en as sodanig, ook vir die Kerk in Hongkong. Die “Hong Kong Pastoral Network” het op 26 Mei ’n Evangeliese Verklaring 2020 uitgereik waarin hulle ’n lyn trek wat hulle nie bereid is om oor te steek nie; dít teen ’n baie magtige Chinese regering. In hierdie verklaring word onder andere duidelik gestel dat “Jesus Christus die Een en enigste Here van die Kerk is”; verder dat “spiritualiteit en praktyk onlosmaaklik aan mekaar verbind is”; en dat “die Kerk die mense van die lig in tye van duisternis is”. ’n Predikant van Hongkong het hierdie verklaring aan die Verklaring van Barmen in Duitsland (1934) gelykgestel, toe Duitse predikante teen die Nazi’s en hulle goddelose rassebeleid opgestaan het. Die kerk in Hongkong het ’n “Vas vir ons stad” aangekondig, wat van 28 tot 30 Mei sal duur.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Here diep in die harte van Hongkong se leiers sal werk wanneer hulle met die Chinese regering onderhandel en dat hulle godvresende besluite sal neem;
  • dat die Kerk in Hongkong gedurende hierdie geskiedkundige tyd standvastig sal bly en voortdurend aan die waarheid getrou sal bly; en
  • dat gelowiges moedig en dapper sal wees.

https://www.facebook.com/Fast-for-our-City-111159023883688/videos/fastforourcity/1287844324939870/

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto: REUTERS/Tyrone Siu

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES