BRASILIË: NUWE COVID-19 BRANDPUNT BEDREIG KWESBARE INHEEMSE GEMEENSKAPPE

Brazil

Brasilië het die wêreld se tweede grootste brandpunt van COVID-19-gevalle geword, aangesien Suid-Amerika as die nuwe virus-episentrum na vore getree het. Die jongste verslae uit São Paulo toon aan dat Brasilië nou meer as 360,000 bevestigde gevalle het. Ten spyte van die konstante styging in gevalle, het Brasilië se president, Jair Bolsonaro, besluit om dele van die ekonomie te heropen, terwyl sommige buurlande hulle inperkings verleng. Argentinië het sy inperkingstyd tot in Junie verleng, aangesien Buenos Aires ook ’n vinnige toename in bevestigde gevalle getoon het. Die inheemse stamme wat buite die stedelike gebiede woon, is heel moontlik die mees kwesbare bevolkingsgroepe in Suid-Amerika. Die Brasiliaanse Amasone se Kambeba-stam – wat uit slegs 35 gesinne bestaan ​​– is een voorbeeld van hoe kwesbaar die land se Amasone-stamme is. Brasilië is ver agter die meeste ander lande ten opsigte van koronavirus-toetsing, omdat die regering sukkel om genoeg toetsstelle aan te koop. Hierdie gebrek aan toetsing, vergesel deur ’n tekort aan voldoende gesondheidsdienste, veroorsaak dat die inwoners van die Amasone besonder kwesbaar is. Daar word vermoed dat die virus die mees afgesonderde gebiede bereik het via die Rio Negro (’n groot sytak van die Amasone-rivier), wat die Amasone met die Brasiliaanse stede wat die ergste deur die virus geraak is, verbind.

Uit ’n Christelike perspektief woon daar na raming 400 stamme in Brasilië se Amasone-reënwoud, waarvan ongeveer 77 nog nooit mee “kontak” gemaak is nie. ’n Onlangs voorgestelde wet, wat Christen-sendelinge toelaat om kontak met die Amasone-stamme te behou, het groot oproer onder inheemse stamleiers en hul kampvegters veroorsaak. Hierdie Amasone-stamme is dikwels só geïsoleer dat hulle weinig weerstand teen siektes het – dít het gelei tot die vrees dat buitelandse sendelinge meer skade sal berokken as goeddoen indien hulle deel van hierdie gemeenskappe sou word. Afgesien van die kommer wat hierdie wet veroorsaak het, bied dit tog aan die Kerk die geleentheid om aan te hou om Brasilië se ‘onbereiktes’ te bereik. Die Kerk sal egter heel moontlik by die veranderende gesondheidsomstandighede moet aanpas en met meer kreatiewe maniere moet vorendag kom om die evangelie na diegene in die Amasone te bring. Die wet sal ook toelaat dat noodvoorrade aan die stamme gelewer kan word – ’n tasbare wyse waarop die Kerk hulp kan verleen aan voorheen ‘onbereikte’ gemeenskappe. Openbaring verwys na ’n tyd waar elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van God sal staan. Saam met die Groot Opdrag, moet hierdie visioen die Kerk aanspoor om nuwe en kreatiewe maniere te vind waardeur die ‘onbereiktes’ bereik kan word – insluitend die bewoners van die Amasone.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir Suid-Amerikaanse regerings en leiers terwyl hulle die voortdurende COVID-19-uitdaging die hoof probeer bied;
  • vir wysheid om die ‘onbereiktes’ te bereik sonder om hele gemeenskappe in gevaar te stel; en
  • dat inheemse gelowiges die sendelinge na hulle eie en omliggende gemeenskappe sal word.

 

 

 

Foto: REUTERS/Bruno Kelly

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES