27 MEI ’20 | BID VIR SUID-SOEDAN

27Mei20 -Suid-Soedan_Afr

Liewe gebedsvriende

Op Vrydag, 22 Mei, het die hoof van die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie daarop  aangedring dat die geweld in Suid-Soedan gestaak moet word en dat die verantwoordelike partye so gou moontlik voor die hof gebring moet word. Hierdie aankondiging volg nadat ’n oorsigverslag van die eerste drie maande van 2020, aan die lig gebring het dat 658 mense in gemeenskapsgeweld in dié land dood is. ’n Verdere 452 mense is beseer, ongeveer 592 ontvoer en 65 is aan seksuele geweld onderwerp.

Gedurende Februarie is ’n verdrag, met die oog daarop om die land se ses jaar lange burgeroorlog te beëindig, onderteken. Sedertdien het geweld tussen gemeenskappe egter telkens uitgebreek. Dié konflik word veroorsaak deur geskille oor toegang tot natuurlike hulpbronne soos water en weiding vir vee; dit het ook al hoe meer gemilitariseer geraak ten opsigte van taktiek en wapens.

Gedurende die naweek het hewige gemeenskapsgeweld in die staat Jonglei, in die noord-ooste van Suid-Soedan, uitgebreek. Na berig word, is honderde mense óf dood óf gewond, vroue is ontvoer, beeste is gesteel, tientalle huise is vernietig, humanitêre werkers is gedwing om te vlug, voedingsentra en pakhuise wat aan hulplenigingsgroepe behoort, sowel as NRO-basisse, is geplunder en noodsaaklike kospakkies is gesteel.

Die dodetal van die Suid-Soedanse burgeroorlog staan op 380,000, terwyl mijoene ontwortel is. Uganda huisves ongeveer ’n mijoen Suid-Soedanse vlugtelinge wat voor die verskriklike geweld gevlug het en nou in strawwe omstandighede probeer oorleef.

INcontext se kontakpersone in twee van dié vlugtelingskampe het die afgelope week gebedsversoeke gerig wat uit die harte van vlugtelinge kom. Terwyl die wêreld op die bestryding van COVID-19 fokus, het die vlugtelinge drastiese befondsingsinkortings en voedselrantsoenering beleef. Dit het tot ’n afname in die aantal maaltye wat genuttig word, gelei – sommige vlugtelinge nuttig slegs een maaltyd per dag. Hongersnood en wanvoeding is besig om ’n harde werklikheid te word.

Bid saam met ons vir Suid-Soedan en vir die Suid-Soedanse vlugtelinge wat in Uganda woon.

“God versterk dikwels ons geloof nádat ons Hom vertrou het, nie vooraf nie.” (Ravi Zacharias)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES