ISRAEL HULDIG NUWE EENHEIDSREGERING IN NÁ LANG POLITIEKE KRISIS

Israel

Israel het uiteindelik ’n eenheidsregering gevorm en sodoende ’n  langdurige politieke krisis beëindig. Die magsdelingsooreenkoms, wat in April opgestel is, is deur eerste minister Benjamin Netanyahu en die leier van die Blou-en-wit-party, Benny Gantz, onderteken. Die ooreenkoms bepaal dat Netanyahu vir 18 maande as eerste minister sal dien, waarna Gantz vir 18 maande dié pos sal beklee. Netanyahu se vyfde termyn as eerste minister begin ’n week vóór hy op aanklagte van korrupsie teregstaan. Die twee leiers het gesê dat die heropbou van Israel se ekonomie, wat in ’n groot mate deur die koronavirus negatief beïnvloed is, die regering se eerste prioriteit is. Vóór die koronavirusuitbraak het Israel in minder as ’n jaar, drie afsonderlike verkiesings gehou, sonder dat ’n nuwe regering tot stand gekom het. Die nuwe regering sal 36 ministers en 16 adjunkministers hê. Volgens Gantz is hierdie groep ministers “verteenwoordigend van ’n groter deel van die bevolking en sal daarom meer effektief wees”. Die verteenwoordigende partye verskil egter van mekaar oor sommige van Israel se mees kritiese kwessies, soos byvoorbeeld die voorgestelde anneksasie van die Wesoewer en beperkings op die onafhanklike regbank.

Uit ’n Christelike perspektief moet die totstandkoming van ’n eenheidsregering ná die maande lange dooiepunt in die politiek, verwelkom word. Die woorde van Psalm 122:6 word steeds wêreldwyd deur baie Christene, wat bid dat Jerusalem en die volk Israel vrede mag hê, ter harte geneem. ’n Oplossing van die interne krisis sal ook die groter streek beïnvloed. Om ’n vreedsame ooreenkoms te bereik, ná drie onbesliste verkiesings, is voorwaar die verhoring van genoemde gebede – veral in die lig van Gantz se voorheen verklaarde voorneme om nooit by ’n regering onder leiding van Netanyahu aan te sluit nie. In tye soos hierdie is daar vele getuienisse oor hoe God omstandighede ten goede laat meewerk deur die koronavirus-krisis. In hierdie geval het dit ook die koronavirus-pandemie geneem om ’n verandering in Gantz se posisie teweeg te bring, wat eerder op ’n eenheidsregering besluit het om die krisis op hande, te bestuur. Daniël 2:21 sê dat God tye en omstandighede verander en dat Hy konings afsit en konings aanstel. In die lig hiervan vertrou ons dat God ’n baie unieke regering in Israel aangestel het vir ’n baie besondere tyd in die geskiedenis.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir voortgesette eenheid tussen Netanyahu en Gantz;
  • dat die nuwe regering Israel volgens die wil en weë van God sal lei; en
  • dat die Here se vrede oor Jerusalem en Israel sal heers.

 

 

Foto: https://images.haarets.co.il/image/fetch/x_9,y_58,w_1588,h_922,c_crop/q_auto,h_488,w_840,c_fill,f_auto/fl_lossy.any_format.preserve_transparency.progressive:none/https://www.haaretz.co.il/polopoly_fs/1.8785325!/image/3530538439.jpeg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES